Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 64

DONDERDAG 25 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 29:1-11

Nuwejaarsviering

Dit is ’n dag vol feesvreugde vir julle (29:1).

GESELSVRAAG: Hoe vier ons ons Nuwejaarsdag?

“Oupa, kan ons vannag na die middernagdiens toe gaan en daarna ook na die strand?” vra ons kleinkinders. Hulle weet al dat daar elke jaar ’n groot vuurwerkvertoning op die strand is om die nuwe jaar te verwelkom. Ongelukkig is daar elke jaar mense wat nie eens vir die nuwe jaar wag om hul klappers en vuurpyle af te skiet nie. Dít is vir die honde ’n nag van verskrikking.

Die Israeliete se Nuwejaarsvierings was op die eerste dag van hul sewende maand, Tishri. Die vierings is ingelui deur die blaas van ramshorings (sommige vertalings praat van trompette). Dit is met groot vreugde gevier. Dit was ’n dag van toewyding en danksegging deur offers vir die Here te bring. Die sewende maand was vol feeste. Die Groot Versoendag en die Huttefees is ook in daardie maand gevier. Die Joodse datums verskil van ons s’n omdat hulle volgens maanmaande werk wat dus elke jaar verskil. (Die Joodse Nuwejaar is vanjaar van 2 tot 4 Oktober. Hulle noem dit Rosh Hashanah.)

Hoe kan ons óns Nuwejaarsvierings verander om God sy regte plek te gee? Ongelukkig het die ou drankduiwel dié dag gekaap. Jy kan gerus met jou Joodse vriend gesels om te hoor hoe hulle dit vier, of dit op die internet soek.

GEBED: Here, leer ons om elke feesdag ook u dag te maak en om U te verheerlik.

Lees vanaand in Numeri 29:12-25 hoe die Huttefees in daardie tyd gevier is. Hoe vier ons ons bevryding van sondebande?

Uit die Beek 2016

Подняться наверх