Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 53

SONDAG 14 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Psalm 80:1-8

Here, red ons!

Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding! (80:8).

GESELSVRAAG: Watter gevare kan ons hierdie week bedreig?

“Die lewe bly maar ’n stryd,” sug ’n kollega. Dit lyk asof daar elke dag maar net meer probleme is. “Die werk van ’n bestuurder is om probleme op te los,” vertel ’n sakeman. “Daarom begin ek elke dag met die vraag: Wat is vandag se probleme?” Sodra ’n mens die Here se kant kies, kan jy verwag dat die vyand ook meer aandag aan jou sal gee, want jy word dan vir hom ’n bedreiging.

Asaf het dit ook ervaar. Daarom gaan sy psalm, soos so baie ander, oor die daaglikse stryd waarin elkeen van ons staan. Hy onthou nog die tye toe dinge goed gegaan het, maar nou begin die baie probleme hom oorweldig. Dit voel vir hom asof almal teen hom is. Waar kan hy nou hulp gaan soek?

Hy het ervaar dat hy in alle omstandighede by die Here hulp kan soek en kry. Daarom het ons almal ’n Sondag nodig wanneer ons kan stil word by die Here en die afgelope week met Hom kan bespreek. Hy weet ook wat hierdie week vir ons voorlê. Ons kan Hom dus vertrou om ons daarvoor voor te berei. Dit is wonderlik om te weet dat ons hierdie week nie ’n millimeter sal kan beweeg waar die Here nie is nie. Al stel ons Hom baie keer teleur, verander sy liefde vir ons nie. Kom ons gebruik vandag om by Hom te bly.

GEBED: Here, dankie dat ek U mag ken in ’n tyd van baie probleme en teenstand. Bewaar my en ons gesin van alle gevare.

Lees vanaand in Psalm 80:9-20 hoe ons die Here se bewaring op alle gebiede nodig het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх