Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 51

VRYDAG 12 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 22:1-12

Verkeerde maats

Moenie met hulle saamgaan nie (22:12).

GESELSVRAAG: Watter soort mense lei ’n mens verkeerd?

“Watter voordeel hou dit vir my in?” is die motivering vir baie mense. Hul hele wêreld draai om hulleself. Selfsug is die groot bron van baie sondes, soos ons in vandag se geskiedenis sal sien. Hoe weet ’n mens wat die regte ding is om te doen? Wanneer moet jy nie met jou vriende saamgaan nie? Kyk net na jou (en hul) motiewe, dan sal jy weet.

Balak het nie nodig gehad om vir die Israeliete bang te wees nie. Die Here het hulle belet om vir Moab (die afstammelinge van Lot) aan te val (vgl. Deut 2:9). Hulle was egter baie bang. Hulle soek dus iemand wat gesag by God het, wat die volk kan vervloek. Hulle het gehoor van Bileam, wat ’n groot reputasie gehad het. Hy het God se stem gehoor. Wat hy sê, sou gebeur. Dus stuur Balak ’n afvaardiging na Bileam. Die Here belet hom om saam te gaan en die gestuurdes moes met leë hande teruggaan.

Bileam het duidelik geweet wat die Here se antwoord was, maar hy gee net die eerste deel (vgl. v. 12). Hy los die deur oop vir ’n beter aanbod. Petrus sê dit was uit geldgierigheid (vgl. 2 Pet 2:15). Geldgierigheid bly vandag nog steeds ’n bron van baie verkeerde besluite. Verkeerde vriende kan ons so maklik oortuig om die verkeerde ding te doen, tot ons nadeel.

GEBED: Here, bewaar my van verkeerde motiewe en om die verkeerde ding uit geldgierigheid te doen.

Lees vanaand in Numeri 22:13-21 hoe die versoekings soms al sterker word hoe langer jy daaroor nadink.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх