Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 60

SONDAG 21 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Psalm 81:1-11

Kom na My toe

Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee (81:11).

GESELSVRAAG: Wat wil jy hê moet vandag in die kerk gebeur?

“Kom ons speel kerk-kerk,” hoor ’n mamma haar kinders sê. Sy was dankbaar dat haar opvoeding sulke pragtige vrug oplewer, totdat die kinders begin rondhardloop en op mekaar skree: “Maak gou, ons is laat! Waar is jou skoene? Kam jou hare en was jou gesig! Trek jou aan! Wat sal die mense van ons dink as ons laat inkom?”

Asaf se lied herinner ons dat musiek ’n groot deel van ons aanbidding is. Ook dat ons ons werkgereedskap moet neersit en onthou wat die Here vir ons gedoen het. Die Here is egter teleurgestel dat sy volk ongehoorsaam is. Hulle dink nie eens aan Hom nie. Vormgodsdiens tel nie vir Hom nie. Hy soek egte aanbidding. Ons moet ’n ware ontmoeting met Hom hê.

Wat verwag jy van vandag se erediens? Seker dat ons gaan sing en dat die dominee sal bid en ’n stigtelike woord sal spreek. Dan sal ons uitgaan en met mekaar oor die weer en die sport gesels. Ons het ons plig gedoen. Sê nou ons kon vandag ’n ware ontmoeting met God hê. Elke keer as mense in die Bybel so ’n ontmoeting het, is hul eerste gewaarwording ’n groot sondebesef. God is so totaal heilig. Hulle val op hul knieë of selfs plat op die grond in aanbidding. Dán verander hul lewe radikaal. Verlang jy vandag na ’n ware ontmoeting met God? Is jy gewillig daarvoor?

GEBED: Here, ek bid vandag vir elkeen wat klaarmaak om kerk toe te gaan, dat ons van u magtige teenwoordigheid bewus sal wees.

Lees vanaand in Psalm 81:12-17 hoe God verlang dat sy volk Hom moet vertrou en volg.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх