Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 57

DONDERDAG 18 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 24:15-19

Die ster uit Jakob

Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie, ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie, daar kom ’n ster uit Jakob, daar staan ’n heerser in Israel op (24:17).

GESELSVRAAG: Wanneer word iemand as ’n ster beskou?

“Jy is ’n ster,” sê my skoondogter vir haar kind nadat sy die soveelste medalje as die uitblinkerspeler van haar yshokkiespan ontvang het. So word ook graadeentjies beloon met sterre wanneer hulle hul huiswerk goed doen. Dikwels word iemand wat op watter vlak ook al uitblink, as ’n ster beskryf. Ongelukkig soms as ’n verskietende ster!

Die toekoms van die volk word aan Bileam geopenbaar. Hy sien ’n groot leier kom. Hy noem hom ’n ster. Vereers kan dit verwys na die tyd van koning Dawid, 300 jaar later, toe die volke wat in dié profesie genoem word, deur Israel oorwin is. Skrifverklaarders meen dat daar ook ’n verdere vervulling is in die koms van die Messias. Dit is opmerklik dat die sterrekykers wat ná Jesus se geboorte in Betlehem opgedaag het, juis uit dieselfde streek as Bileam gekom het. Hierdie profesie deur ’n heiden kan dus reeds na Jesus Christus verwys.

Dit nie genoeg om bloot die Woord van God te ken nie. Jy moet dit aanvaar en daarvolgens optree. As die Bybel nie jou lewe verander nie, is dit vir jou nutteloos.

GEBED: Here, gee dat u Woord elke dag my lewe sal verander om ál meer soos Christus te wees.

Lees vanaand in Numeri 24:20-25 hoe Bileam ’n kykie in die toekoms van die omringende volke gekry het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх