Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 50

DONDERDAG 11 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 21:21-26

Die beloftes word vervul

Die Israeliete het al die stede van die Amoriete verower en daarin gaan woon, ook in Gesbon en al sy buitedorpe (21:25).

GESELSVRAAG: Watter uitdaging lê hierdie maand vir jou voor?

“Wanneer die nag op sy donkerste is, is dit net voor die dag begin breek,” herinner ’n vriend my. Ons ken almal tye dat ons op die punt was om tou op te gooi. Tog gee wenners nie bes nie. Byt vas – die uitkoms is op pad. Dit was ook die ervaring van die Israeliete aan die einde van die 40 jaar wat hulle in die woestyn moes rondswerf.

Nadat die Edomiete vir Israel deurgang geweier het, was daar net een pad na die beloofde land: deur die grondgebied van die Amoriete. Die Amoriete het reeds ’n reeks oorwinnings op hul kerfstok gehad en het Israel vol bravade sonder meer aangeval. Die gevolg was dat die Here die oorwinning aan die Israeliete gegee het. Hulle kon dus die dorpe en landgebied van die Amoriete beset. Dit het later die erfdeel van sommige stamme geword (vgl. Num 32:1-5).

Wanneer ’n mens God se wil ten volle wil gehoorsaam, kan jy baie teenstand verwag. Dit voel later asof dit nie die moeite werd is nie. God gebruik elke uitdaging om ons te versterk en te vorm. Juis wanneer dit lyk asof daar geen uitkoms meer is nie, dan gebeur die wonder. God ken elkeen van sy kinders en weet hoe swak ons is. Daarom sorg Hy dat ons nie bo ons kragte versoek en beproef word nie (vgl. 1 Kor 10:13).

GEBED: Here, U ken al my swakhede. Dra my deur hierdie week se uitdagings en gee U die oorwinnings wat nodig is.

Lees vanaand in Numeri 21:27-35 hoe die Here die volgende oorwinning aan die Israeliete gegee het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх