Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 58

VRYDAG 19 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 25:1-9

Verleiding

Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode (25:2).

GESELSVRAAG: Waarom bevat so baie advertensies prente van vroue?

“Die Here het eerste vir Adam gemaak. Toe kyk Hy na hom en dink: ‘Nee, Ek kan beter doen as dit.’ Toe maak Hy vir Eva,” sê ’n vriendin. “Wat het Adam gesê toe hy Eva vir die eerste keer gesien het? Hy het gesê: ‘Uiteindelik!’ ” skerts ’n jeugleraar in ’n preek (vgl. Gen 2:23, 1953/1933-vertaling). Hoe ook al, dit is duidelik dat ’n vrou gemaak is om die manne se aandag te trek. Seker ook dié dat advertensies met mooi meisies meer aandag trek as ander. Volgens navorsing geld dit ook vir voorblaaie van tydskrifte.

Dit staan nie presies so hier in Numeri nie, maar die Bybel sê dit was op advies van Bileam dat die Moabitiese vroue die manne deur buite-huwelikse seks verlei het om saam met hulle die afgode te vereer (vgl. Op 2:14). Die gevolg was dat 24 000 Israeliese mans gesterf het (vgl. v. 9). Israel was totaal onbewus van die geestelike stryd wat in die berge rondom hulle gewoed het.

Dit is niks nuuts nie. Selfs vandag word huwelike opgebreek, selfs van leraars, deurdat hulle aan seksuele versoekings toegee. Die duiwel span God se pragtigste skepping in om mense te verlei. Nietemin gebruik God die vrou as beeld van sy bruid, die kerk (vgl. 2 Kor 11:2; Op 19:7). Aan wie se kant is jy?

GEBED: Here Jesus, dankie vir die voorreg om deel van u bruid op aarde te wees. Heilig my, tot u eer.

Lees vanaand in Numeri 25:10-18 hoe die Israeliete en die Moabiete gestraf is vir hierdie sonde.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх