Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 61

MAANDAG 22 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 26:52-65

God hou sy beloftes

Nie een van húlle het toe oorgebly nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun (26:65).

GESELSVRAAG: Noem ’n belofte van God met ’n voorwaarde.

“As jy mooi luister, hard leer en jou huiswerk getrou doen, sal jy maklik in die eksamen slaag. As jy dit nie doen nie, sal jy jou jaar moet herhaal.” Dit is ongelukkig nie meer waar nie. Kinders word sommer deurgesit sonder die nodige prestasie. Die gevolg is kinders in matriek wat nie behoorlik kan lees nie. Wat help dit tog?

Dit was nou die tweede keer dat die volk Israel by die grens van die beloofde land gekom het. Die eerste keer het hulle in opstand gekom. Hulle het die Here nie vertrou nie. Op Moses se gebed is hulle vergewe, maar geeneen van hulle sou in die beloofde land gaan woon nie, behalwe Kaleb en Josua (vgl. Num 14:20-24). Dit was presies wat 38 jaar later gebeur het. Toe die volk weer getel word, was daar nie een oor wat uit Egipte getrek het nie, behalwe Kaleb en Josua.

Ons moet onthou dat God se getrouheid in twee rigtings werk. Hy hou sy beloftes, ook die beloftes van straf as ons ongehoorsaam is. Ons kan dus nie doen wat ons wil en verwag dat Hy soos Kersvader alles oor die hoof sal sien nie. Kyk mooi: Aan God se beloftes is gewoonlik ’n voorwaarde gekoppel. Jesus red, as ons glo (vgl. Joh 3:16, 18). Die egtheid van ons geloof word aan ons gehoorsaamheid gemeet.

GEBED: Here, help my om u Woord reg te lees en te verstaan watter opdragte aan elke belofte gekoppel is. Hou my getrou.

Lees vanaand in Numeri 27:1-11 hoe dogters dieselfde erfreg as seuns gekry het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх