Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 62

DINSDAG 23 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 27:12-23

Opvolger

Dan moet U … iemand oor hierdie volk aanstel wat vir hulle ’n leier en aanvoerder kan wees (27:16-17).

GESELSVRAAG: Hoe kies ons ons leiers?

“Dit is opmerklik dat feitlik elke leier in die Bybel wat goed begin het, in hul later jare ernstige foute gemaak het,” skryf iemand op die internet. Hy verwys dan na Noag, Moses, Saul, Dawid en Salomo. Ons kan maklik aan nog voorbeelde dink. Hulle almal het goed begin, maar hulle het onder ’n wolk geëindig. Hulle was nie volmaak nie. Sommige mense voel dat dit ’n bewys is dat die Bybel waar is – die helde se swakhede word nie toegesmeer nie. As jy dus vandag op ’n hoogtepunt is, moet jy baie versigtig wees – jy kan maklik die toets op ’n kritieke oomblik dop.

Moses – die sagmoedigste mens op aarde – het sy toets gedop deur sy humeur te verloor (vgl. Num 20:1-13). Nou sou hy die land net van ver af sien voordat hy sterf. Hy vra toe vir ’n opvolger wat geskik sou wees. Josua was ’n beproefde en Geesvervulde leier (vgl. v. 18). God wys hom dus aan.

Ons verlang almal na ’n leier soos Josua na wie ons kan opsien en vir wie ons met trots kan volg. Ons het sulke leiers met integriteit nodig in die regering, in die sakewêreld, in die opvoeding, in die mediese dienste en in die kerk. Nietemin is elkeen van ons ook ’n leier, al is dit net van ons eie kinders. Kom ons wees self so iemand.

GEBED: Here, maak my ook iemand wat U gehoorsaam volg en wat die regte leiding aan ander kan gee.

Lees vanaand in Numeri 28:1-10 hoe die daaglikse offers die teken moes wees dat God met die volk is.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх