Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 77

DINSDAG 8 MAART 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 35:22-28

Die Gesalfde

Dáár moet hy bly totdat die hoëpriester, die man wat met gewyde olie gesalf is, gesterf het (35:25).

GESELSVRAAG: Hoe word manslag deesdae hanteer?

“Die verskil tussen manslag en moord is of jy vooraf beplan om iemand te vermoor. As jy iemand per ongeluk doodmaak sonder om dit te bedoel, is dit manslag,” verduidelik iemand dié terme vir my. “As jy onverskillig was, kan dit strafbare manslag wees.” Jy het mos geweet dat jou optrede gevaarlik vir ander mense kan wees.

Die kultuur van daardie tyd was wraak en weerwraak, soos nou nog in sommige lande. Die Here het dus ’n beter manier voorgestel: Maak eers seker of die skuldige werklik bedoel het om die ander man dood te maak. Indien dit ’n geval van manslag is, kon hy veilig in die asielstad bly totdat die heersende hoëpriester gesterf het. Daarna kon hy sonder vrees terugkeer na sy familie.

Dit is opmerklik dat vergifnis afgehang het van die dood van die gesalfde. Christus (die “Gesalfde”) het deur sy dood die pad na volkome vergifnis oopgemaak – selfs vir mense wat opsetlik moord gepleeg het. Hy is die ewige hoëpriester (vgl. Heb 6:20). Toe Hy sterf, het die voorhangsel geskeur as simbool dat die pad na God nou vir almal oop is (vgl. Matt 27:51). God red ons uit genade, nie deur ons verdienste nie. As jy vergifnis ontvang het, moet jy op jou beurt ook vergifnis gee.

GEBED: Dankie dat U vir ons die pad na vergifnis oopgemaak het, Here Jesus. Help my daarvolgens lewe.

Lees vanaand in Numeri 35:29-34 hoe moord regverdig geoordeel en gestraf moes word.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх