Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 72

DONDERDAG 3 MAART 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 33:1-10

Mylpale

Op bevel van die Here het Moses soos hulle getrek het die name van die kampplekke aangeteken (33:2).

GESELSVRAAG: Waar het jy al oral gewoon of gekuier?

“Ek het my dagboek in die hande gekry wat ek in graad vier geskryf het,” vertel ’n skoondogter een vakansie. “Dit is interessant om te sien wat my drome toe was en wat intussen in my lewe gebeur het.” In ons tyd sou sy op Facebook se Timeline kon kyk wat sy alles geskryf het en selfs na die foto’s van die plekke en mense wat vir haar belangrik was. Onthou, alles wat jy op Facebook skryf, is blywend! Wees dus versigtig wat jy daar sê.

Moses het noukeurig boekgehou van al die plekke waar hulle kamp gestaan het. Gelukkig het sy kinderjare in die paleis gesorg dat hy kon lees en skryf. Het hy dit dalk oorspronklik in hiërogliewe geskryf? Elkeen van die name het ’n storie vertel, hoewel almal nie hier genoem word nie. Daarvoor sou die hele boek Eksodus nodig wees. Elke naam het hom daaraan herinner dat die Here in elke behoefte voorsien en hulle beskerm het.

Wat sou jy alles kon vertel as jy dit maar net kon onthou? Daar is kosbare stories in elke senior opgesluit, as iemand bloot die moeite sou doen om dit neer te skryf. Ons kleinkinders luister oopmond na al die avonture wat hul oupa en ouma in hul kinderjare beleef het. Tog speel die Here ’n groot rol in elke vertelling.

GEBED: Here, ek wil U eer vir alles wat U vir my gedoen het.

Lees vanaand in Numeri 33:11-37 oor die roete wat die Israeliete deur die woestyn gevolg het. Die Here was steeds by hulle.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх