Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 74

SATERDAG 5 MAART 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 34:1-12

Grense

Dit is die grense van julle hele land (34:12).

GESELSVRAAG: Wat is die grense van jou invloed?

“Die geheim van goeie buurmanskap is duidelike en sterk heinings,” lees ek iewers. Ek het weer daaraan gedink toe ek sien dat daar in die VSA en Kanada baie dele is waar daar geen sigbare grense tussen die bure is nie. In Turkye het al die vee wagters nodig, want daar is nie drade tussen die plase nie. In die Karoo sien ’n mens soms die oorblyfsels van klipmure wat die grense van die plase moes aandui.

Die Here gee in vandag se Skriflesing die grense wat die land van die Israeliete sou hê. Dit het nie dadelik gebeur nie. Selfs nie in Josua se tyd nie. Sommige gedeeltes hiervan is eers deur Dawid ingeneem. Vandag glo baie Jode dat hierdie grense na duisende jare weer vir die staat Israel herstel moet word.

Die koninkryk van God het egter nie grense nie. In elke land op aarde is daar mense wat die goeie nuus van Jesus gehoor en Hom as hul Here en Meester aangeneem het. “Christus is die Here!” het al dikwels gelowiges se lewe gekos. Nogtans is die opdrag om elke volk en taal en nasie na Hom te lei, vandag steeds van krag. Ons kan ’n verskil maak – nie net in ons eie dorp nie, maar selfs tot die uithoeke van die wêreld.

GEBED: Here, wys my hoe ek u koninkryk kan bevorder, ook deur sendelinge en u kinders in ander lande te ondersteun.

Lees vanaand in Numeri 34:13-29 wie die land tussen die stamme moes verdeel en hoe hulle dit moes doen.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх