Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 76

MAANDAG 7 MAART 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 35:1-8

Lewende Bybels

Sê vir die Israeliete hulle moet in die gebiede wat hulle besit, vir die Leviete stede gee om in te woon, en ook weiveld rondom die stede (35:2).

GESELSVRAAG: Hoekom het ’n gemeente ’n leraar nodig?

“Ons het net een Bybel vir die hele gemeente,” vertel ’n Sjinese leraar. “Ons het dus die Bybel in klein seksies opgesny en elke lidmaat moes ’n seksie memoriseer. Dan sou ons die hele Bybel hê as dit dalk gekonfiskeer word.” Sê nou maar jy moes Numeri memoriseer! “Toe ek in Rusland gearresteer is omdat ek Bybels die land ingeneem het, het ek my voorgeneem om groot dele van die Bybel te memoriseer,” vertel ’n Afrikaanse predikant.

Die Israeliete het nie Bybels besit nie. Moses was nog besig om die eerste gedeelte van die Ou Testament te skryf. Dit is eers baie later met die hand oorgeskryf sodat elke stam en later elke sinagoge ’n afskrif van die Skrif kon hê. Hoe kon die Israeliete dus weet wat om te doen en hoe om te lewe? Die Leviete moes dit memoriseer en aan hulle oordra. Daarom moes elke stam lewende Bybels in die vorm van Leviete hê om hulle te onderrig.

Ongelukkig memoriseer baie mense nie meer Bybelverse nie. Hulle is dus ongewapen wanneer die versoeker hulle probeer verlei. Kom ons memoriseer elke dag ’n gedeelte.

GEBED: Here, help my om elke dag ’n deel van u Woord in my hart te bêre sodat ek gewapen kan wees.

Lees vanaand in Numeri 35:9-21 hoekom asielstede as plekke van veiligheid voorberei moes word.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх