Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 70

DINSDAG 1 MAART 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 31:42-54

Offer van dankbaarheid

Ons het die soldate wat onder ons bevel was, getel, en daar word nie een vermis nie (31:49).

GESELSVRAAG: Hoekom kry baie gemeentes geldelik swaar?

“Die geheim van ’n gelukkige lewe is om dankbaar te wees vir wat jy het, nie ongelukkig oor wat jy nie het nie,” lees ek iewers. Tog kla ons so maklik. “Kan nie kla nie,” antwoord iemand as ek hom vra hoe dit gaan. Dit is asof hy teleurgesteld is dat hy niks het om oor te kla nie. Eish!

Die Israeliete het die beloofde land suksesvol ingeneem. Die Midianiete wat hulle wou vervloek, het nou hul straf gekry. Alles wat hulle van Bileam wou hê om op die Israeliete te laat neerreën, het op hulleself afgekom. Hul afgodsdiens en onsedelike lewenswyse het nou op hulle teruggeslaan. Die hele volk is uitgewis.

Die Israeliete se leiers het ontdek dat hulle nie ’n enkele ongeval gehad het in hierdie veldslag nie. Hulle was so dankbaar dat hulle al die goud wat hulle gebuit het, aan die Here gewy het. Dit het amper 200 kg geweeg! Hulle het dit met vreugde gebring, want God het ’n blymoedige gewer lief (vgl. 2 Kor 9:7). Ook die soldate het hul buit gedeel met dié wat agtergebly het, en albei groepe het ’n deel aan die Leviete gegee. Dankbare gelowiges gee graag aan die Here se werk. Is jy een van hulle?

GEBED: Here, vergewe asseblief my selfsug. Maak my opreg dankbaar en wys my hoe ek u werk kan ondersteun.

Lees vanaand in Numeri 32:1-19 hoekom die veeboere gevra het om hul erfdeel aan die oostekant van die Jordaan te kry.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх