Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 78

WOENSDAG 9 MAART 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 36:1-4

Eie belang

So sal die grond wat aan ons toegewys is, van ons weggeneem word (36:3).

GESELSVRAAG: Wat was die hoofdoel van die Groepsgebiedewet?

“Sedert groepsgebiede opgehef is, word die middestad van Johannesburg deur vreemdelinge beset en het die stadsentrum verval,” lees ek in ’n e-pos. Mense is bekommerd dat hul eiendomme se waarde sal daal. Hulle vergeet dat die Groepsgebiedewet groot hartseer en skade veroorsaak het omdat mense se eiendom summier afgevat is. Erfgrond raak mense emosioneel.

Die familiehoofde van die stam van Manasse het seker lang debatte om die kampvuur gevoer oor die nuwe verwikkelinge rakende die dogters van Selofgad. Hulle het vrede dat die dogters soos seuns kon erf, maar sê nou hulle trou met ’n man uit ’n ander stam? Dan word hul erfgrond deel van ’n ander stam se grondgebied, selfs in die Jubeljaar. Groot ontsteltenis, al het hulle toe nog geen sentimeter grond in die beloofde land besit nie.

Ons erfgrond is vir ons belangrik. Tog vergeet ons dat dit alles maar net tydelik is. Ons eintlike erfdeel is nie hier nie, maar in die hemel (vgl. 1 Pet 1:4; Kol 1:12). Ons moet dus in die eerste plek seker maak dat ons en ons nageslag nie die eintlike erfenis misloop nie.

GEBED: Here, vergewe dat ons so vas is aan hierdie aarde. Dankie vir ons eintlike erfenis in die ewigheid.

Lees vanaand in Numeri 36:5-13 hoe die probleem van dogters se erfreg toe opgelos is. Ons groet vanaand vir Numeri.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх