Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 13

Lees Psalm 8 | 9 Januarie

Оглавление

Wat is ’n mens dan …?

Here, ons Heer,

u Naam klink helder oor die aarde heen,

u roem skitter aan die hemel.

U mag strek verby my verste denke oor U.

Selfs die kleinste ou kindertjies weet dit wanneer

hulle sing: “My God is so groot, so sterk en so magtig;

daar’s níks wat my God nie kan doen!”

Hul stemmetjies doof die slimstories uit;

die kordate kenners bly stil as kleintjies sing.

En kyk ek op, na die sterre, ken ek eensklaps my plek.

Want as ek my die ruimte ánderkant my blote oog verbeel,

slaan dit my heeltemal stom. Dan weet ek nie hoe U mý,

stofkolletjie, raaksien nie; nog meer: dat U aan my dink nie.

Tog weet ek dat u grootheid bevestig word

juis deur u aandag aan besonderhede,

u diepe nadenke oor klein dingetjies

en piepklein mensies.

Op ’n manier – en ek weet regtig nie hoekom nie –

het U die mens verhef. Het U aan ons ’n waarde

gegee wat ons waaragtig nie verdien nie:

U het ons dan ampergode gemaak!

’n Soort baas oor u handewerk.

U het ons gekroon met aansien wat ons verleë maak,

omdat ons weet dat ons dit nie werd is nie.

Ag, Here, ek verstaan hiervan niks,

ek sê maar net dankie vir die diere, die voëls, die visse –

almal ú skepsels, wat my lewe so oneindig verryk.

Leer my elke dag om mooi te kyk

na wat U aan my toevertrou het –

U wat so mooi na mý kyk.

Here, ons Heer,

klokhelder klink u Naam oor u skepping heen!

Die ewigheid in my hart

Подняться наверх