Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 22
Lees Psalm 14 | 18 Januarie
ОглавлениеDwaasheid
Dit is ironies dat ek my oor ander mense
se dwaling verlekker, Here, eintlik belaglik.
En oneerlik, want ek is nie anders as hulle nie.
Ek hou my maar so vroom, so ordentlik,
maar my hart dra dieselfde dwaasheid.
En U weet dit.
U kyk ook na my
om te sien of ek nie straks anders is nie,
of ek nie minder afstootlik as hulle is nie.
Maar toe is ek inderdaad ook een van “hulle” –
met weliswaar die skyn van insig en godsvrug.
My sogenaamde intellek spreek die laaste woord:
Ek glo nie ek glo nie.
Hoe is dit dan dat U steeds in mý glo?
Hoe weier U dan om my “nee” vir ’n antwoord te aanvaar?
U sê “tóg” – en dan kom haal U my
en maak vir my weer plek by U.
U tel my by die regverdiges.
U onthou steeds die tyd
toe ek by U gaan skuil het.
Eenmaal my kind, sê U, áltyd …
Al is jy onder dié wat nié goed doen nie, doen Ek goed aan jou.
Al het jy moed opgegee met My, het Ek jou nooit afgeskryf nie.
Wat moet ek hierop sê, Here?
Dat ek, die afdwaler, tog hiér is?
Steeds in die skuilplek wat U nog altyd vir my was,
wagtend op die dag dat U die boosheid
finaal gaan ontmasker, wanneer U die geskiedenis
gaan skryf soos oorwinnaars dit maar doen?
Ja, ek is hier, Here, hier by U.
Ek was nog altyd hier,
ten spyte van my dwase praatjies.