Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 42
Lees Psalm 24:7-10 | 6 Februarie
ОглавлениеKóm, my Koning, kom binne!
Hier is ons, Here-ons-koning – ons wag op U.
U wat die oorwinnaar is oor chaos en almal wat dit skep,
U is die Een wat altyd triomfantelik terugkeer
ná U die geveg namens u kinders aangeknoop
en vanselfsprekend gewen het.
En al sukkel ons, hierdie kortsigtige geslag,
dikwels om u oorwinnings te herken,
weet ons – kleingeloof en al –
dat U die bose oorwin het.
Ja, Here, ons is nie altyd wenners nie
– ons is dit eintlik baie selde, sal U mos weet –
maar Ú het oorwin, en U sal dit weer en weer doen,
tot in ewigheid. En daarom sê ons, nee, júbel ons:
Kom in! Kom bly by ons.
Kyk, o Koning, kyk hoe skuif die hekke oop,
kyk net die rooi tapyt!
Hoor die heldeverering,
die lof wat U toekom.
Maar, Here, ons sing so geesdriftig
en met soveel oortuiging oor U wat oorwin het,
en ons wat die deure vir U oopmaak …
maar ons weet dat U nie vir óns wag
wat eers moet oopmaak nie.
Dat U die deure sal platloop as U sou wou.
Ons weet dat dit nie óns plek is waar ons
U sogenaamd toelaat nie.
Hierdie plek en sy mense
behoort aan U.
Daarom, as U nie omgee nie …
as U ons die voorbarigheid sal verskoon:
Kom asseblief binne, kom maak U tuis.
Hier in u plek.
Hier by ons,
u eiendom.