Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 25

Lees Psalm 16:5-11 | 21 Januarie

Оглавление

Die meetsnoere

So hét alles toe uitgewerk, nè, Here?

U het ver vooruit gesien

– veel verder as wat ek kon dink of droom –

en toe het U die tentpenne ingeslaan:

mý blyplek, my werkplek.

’n Tuiste wat U vir my, u kind, kom uitmeet het.

Ag, Here, ek is jammer dat ek deur die jare heen

aanhoudend daaroor gekla het

dat U juis hiérdie plek gekies het:

Dit is dan so … anders as wat ek my dit voorgestel het

toe ek nog jonk was. Is daar dan nie vir my

’n ander werkplek, ’n lekkerder blyplek, ’n gunstiger klimaat,

bekwamer kollegas, beter bure, aantrekliker vooruitsigte nie?

Só, sal U onthou, het my versugtinge geklink,

ja, so het ek by U kom mor.

Hoe dom was ek nie, hoe kortsigtig, stiksienig.

Nou wil ek dit vir U kom sê,

dit erken: Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval.

Wat ek van U ontvang het, juis op hierdie plek,

is vir my mooi.

(Ek het nie gedink ek sal dít ooit sê nie, Here!)

Maar in die nag, as ek sukkel om te slaap

en worstel om die dag se stemme

en ruwe redenasies en woedende wysvingers

uit my gedagtes te kry, dan dink ek met liefde aan hierdie plek,

hier waar U my neergesit het.

En net voor ek insluimer, hoor ek u stem,

sommer hier digby my:

“Luister na My, en leer by My.”

Here, hoe veilig voel ek dan nie!

Hoe vol vrede, en hoe dankbaar

dat U my oor die lewe leer –

en dat dit goed is, en mooi.

Die ewigheid in my hart

Подняться наверх