Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 38
Lees Psalm 22:12-22a | 2 Februarie
ОглавлениеHere-buite-hoorafstand
Hóór my, Here, ek is desperaat! Dinge raak nou lelik:
’n Siedende horde keer my vas; ek is omsingel.
Ek sien reeds hul slagtande glinster.
Ek moet my seker op die ergste voorberei …
Daar is niemand vir my nie, dit is net U.
Of eerder: Dit wás net U.
Want U swyg steeds. U is ver.
U is … weg.
As U hier was, sou U gesien het hoe ek lyk:
Ek is net ’n skadu van die mens wat ek was.
My lyf, my moed, my hart, siel en verstand –
alles is daarmee heen.
Ek het opgegee. Ek het eenvoudig nie meer
die krag om te probeer nie.
Ek het niks te sê nie en ek voel niks meer
vir dié dinge wat voorheen saak gemaak het nie.
Ek kyk maar gelate toe terwyl ek verguis word,
in die stof vertrap word. Uitgeteer, willoos, gevange.
’n Skamele tree weg van die dood.
Kyk dan hoe trek hulle my uit,
kýk hoe verlekker hulle hulle in my vernedering.
Hoor hoe lag hulle oor my hulpelose naaktheid –
kyk net hoe baklei hulle met mekaar …
en dit oor my klere, Here!
Met wie het ek nou gepraat? Seker maar met myself.
Daar is niemand anders nie. U luister tog lankal nie meer nie.
U het U tot buite hoorafstand onttrek.
Moet ek roep? Dalk nog één maal probeer?
Ek is reeds kaal uitgetrek; ek het niks meer om te verloor nie.
Daarom skreeu ek maar: Here, hoor my tog!
Hére!
Here, hélp my!