Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 3
Voorwoord
ОглавлениеEk het grootgeword in ’n huis waar daar huisgodsdiens gehou is – met Pa wat graag uit die Bybelse psalms gelees het.
Later jare, as predikant op die Noord-Kaapse platteland, het ek opgemerk hoe gemeentemense se Bybels so ’n bruingevatte strook aan die voorkant het, daar in die middel rond. By die Psalmboek.
Wat maak die Psalms sulke geliefde leesgoed?
Ek dink dit is die menslikheid daarvan. Hier, in die hart van God se Woord, tussen al die groot woorde en ingrypende gebeure deur, staan die liedere en gebede van ’n ou volk opgeteken. Hulle uitbundige vreugde en hul diepe hartseer; hul worstelinge, onbegrip, hul moedeloosheid. Sóveel van hul geskiedenis.
En, uiteraard, hulle God en die rol wat Hy in hul lewe en die lewe van hul voorouers gespeel het. Dit is immers aan Hom wat die vrae gevra word; dit is Hy wat hul klaagliedere moet aanhoor. En Hy is die Een aan wie hulle die lof bring.
Al hierdie sake raak, millennia later, steeds die Bybelleser se hart. Die konteks verskil aansienlik en die destydse kultuur is soms bitter vreemd – maar sal daar ooit opgehou vra word na God se teenwoordigheid, en na sy rol in ons en ons mense se lewe? Wie sal Hom nie aan sy beloftes wil herinner nie, en by wie sal ons ons teenstanders gaan verkla? En wanneer sal die laaste “halleluja!” verstom?
Die gebede in hierdie boek is in gesprek met die Bybel se psalmboek gebid. Dit verklap sekerlik heelwat van die bidder en die manier waarop hy die Psalms lees. Maar dalk bring dit ook iewers, vir iemand, ’n skerfie lig. En ’n duideliker blik op die Eerste Adres vir ons hedendaagse vrae, ons knaende kleingeloof, ons hardnekkige twyfel – en die genadige sekerhede. En vir ál ons lof, dank en aanbidding.
BAREND VOS
14 September 2015