Читать книгу die na-dood - Breyten Breytenbach - Страница 14
by die heengaan van Tomaž Šalamun, 27 desember 2014
Оглавление“l’amour est fort comme un poème”
– Carmen, Bizet
“Little robin,
bones pinned to the cosmos.
Who whistles, who calls?”
– (Untitled), Tomaž Šalamun
1
die mens se blouskrif loop tot waar die reis
verskiet in sterre
en nie verder nie
onderweg fluit nagvoëls in die kreupelhout
branders staan op om te swel en breek
laat seisoen wanneer dae saamkrimp
sal daar soms berge wees
gestolp onder ’n laag sneeu
van mymering of ’n geheue
aan ewige lewe
en nie verder nie
niks is verklaarbaar in die worp woorde nie
maar wanneer die nag uitskei in dag
is alles aanwesig
soos dit nog altyd was
bome, ’n snawelmaan getower uit rook
ook skaduwees en kinders se helder klokklanke
en nie verder nie
die mens kry sy laken
wat ’n seil span oor die lyk
sy kis as sloep vir die gedagdroomde vaart
oorkant toe
en niks verder nie
2
ons was saam hier voor die nag se oneinde
om te tuur in daardie ruimte
waar ’n wenteling sononders
in die kolk verdwyn
en net die knettering skroeisels oorbly
as flonkerpetale oor ’n swart tafeldoek
ek lig ’n glasie op die stilte van jou verkoolde lippe, vriend –
al het die kyk my oë verblind
en is daar niks meer om te sien nie
3
. . . het onthou van die halfmaanmuur
in die onderste tuin
waar twee suurlemoenboompies
nou skuilte soek
. . . daar byna uitgevee deur seisoene
geskryf sien staan:
rug téén die muur
van bergwindkoue uit die noorde
anderkant die grens om ballingskap
om die rug te draai
en oor einders te soek
na gerugte van vryheid