Читать книгу die na-dood - Breyten Breytenbach - Страница 20
eetvers 3
Оглавлениеdit het gereën in die nag
sterre en wind en stilte
druipende bome verniste klippe
die reuk van grond stilte
in die berg
skryf met die vinger in die as
van vulkane wat net in die gedig
gegloei het
onthou die verbeelding
wat net in die gedig gebloei het
aan ’n vrou aan jou
die verbeelding is vrou
met groen soetvytjie in die skoot
dit het gereën in die nag
sterre en herinnerde relase rook
soetvy tong in die mond
en jy vlammende stilte gespieël
en nou die oggendboek
dat jy my woorde kan eet
die betekenistong se swart as-smaak
in die dagregister van terugkeer
na geboortegrond
vrot die wrakwoorde van ’n skip wat vergaan
uitgevee aan die newelkus
dat die maan ’n gloeiende klip moes wees
gekreet in wolke se rou-rookkleed
skryf met die vinger in die as
begrawe gefluisterde hart
begrawe gedig in woordstilte
stapel maanskerwe oor die uitveegesig
maar dis ek dis maar net ek
hierdie singkende lyk
wat die soetvlees proe
van die laaste vrees
31/1/2015