Читать книгу die na-dood - Breyten Breytenbach - Страница 18
gedig
Оглавлениеneem my deur ’n streek van sneeu
landerye met bale hooi in die somer
waar voëls die lappe woorde vreet
om tot bewegende ritmes te swerm
na helderheid, na ’n bietjie helderheid
neem my terug oor die lope van ’n lewe
waar geliefdes lê met vergane gesigte
in krippe stof
wys my die skilpadspoor se doel in die sand
laat my die sterre nog ’n laaste
eerste keer die aarde sien seën
met helderheid, met dorstige helderheid
laat my begryp hoe hang die wind
vlae en vreugdes vir die wapper
in boomtoppe se bewing
laat my die kind hoor huil
die seun se lag op pad skool toe
die klag van die duisternisroeper in die nag
om helderheid, om die droom van helderheid
laat my hierdie lyf nog ’n wyle strek
oor die voue en die sugte van die vrou
laat die ruggraat se rilling ’n vlam wees
dis goed dat donker soos dag teen die ruite
die onthoue laat stort in saad van vergeet
en dat liefde en leed genoem is
om helderheid, om die stil lied van helderheid
neem my na die hoogste berg
laat my klippe in my broeksakke dra
prakseer die vlerke van plastiek oor my skouers
dat ek mag opstyg na waar alles blou knetter
en net die leë seespieël glinster
van helderheid, van helderheid se verblinding
laat my neer in die diepste put
waar wande klam is van die soek van hande
na die maan wat soos ’n gedagte
sonder gesig in die afdonker dobber
snoer die woordvloei soos ’n tou om my nek
en laat my hang aan helderheid se ruwe vervlegting
maar laat my gehurk in stilte sit
laat dit alles kom en gaan
laat my vergeet en opgaan in kom en vergaan
laat my die hart hoor kwaggel in die niet
wat ’n reis is, ’n asemruimte
van helderheid, o die helderheid
26/1/2015