Читать книгу Woud van nege en negentig vlerke - Carina Stander - Страница 10

boodskappe van Bo

Оглавление

Giant Forest, Kalifornië

sneeu sif in fynskrif tussen my vingers

sneeu knars ’n kode onder my stewels

sneeu skreeu geluidloos oor ’n waterval

oral wit gedigte op wit papier

hier waar prêriewolwe nader draf

en eekhorings mekaar verjaag

deur ’n botstil eikewoud

– die takke flambojante frille

van ’n sigeunerrok –

is spore die stemme van diere

toe ek die sequoiareus

se bruin groefstam braille,

val vlokkies soos bloeisels

uit dié mensverlate katedraal

slierte waai in sinne van Bo –

brandwarm fluisterings, plofsag

elke verhaal begin met dié woorde:

’n Vreemdeling se houtbeen

maak malse merke in die sneeu

oral wit gedigte op wit papier

Woud van nege en negentig  vlerke

Подняться наверх