Читать книгу Woud van nege en negentig vlerke - Carina Stander - Страница 18
brokkelgrond
Оглавлениеwie sal water put
uit die kinderlose land?
het ’n vrou gevra
en gegrawe in grond
geskep deur vulkane en wind
heuwels had die vorm
van ’n verbeelde kind:
stofgeel en rond die skedel
en boggelrug se bedel
onder ’n kokerboom wat ru vervel
het sy aalwynsap getap
vir ’n wond soos knalrooi winterblom;
vir verkragtes en verbrandes
het sy die bitterblaar gekerf
soms kon sy verwering
in sagter rots gewaar:
’n kraalmuur of ’n teepotskerf
’n traliehek wat skif,
twintigduisend grafstene
had die handskrif
van ’n moordenaar
op ’n dag kom donderreën
en die ganse veld is bont
as fynverf uit die hemel sif
is elke bars ’n toevuisblom
die vrou onthou
magma word graniet
word huis, versteende droom;
onbewoonde wonings
kry die ene lag
want diep in die werf
is ’n kraanvoëlblom
se blou skede donsigsag
toe die geelbeenson
oor die horison strek
het die vrou ’n put gegrou
’n wolk het vlietend, byna ongemerk
soos die wit stam deur Afrika getrek