Читать книгу Woud van nege en negentig vlerke - Carina Stander - Страница 16
Vasteland, wankelland
ОглавлениеAfrika met die rye mielies soos windverwaaide soldate
Afrika wie se mieliestamper ’n bedelaar se kneukels is
Afrika met die lente ’n hongerblom in die sandveld langs die see
Afrika wie se wilde kalossie ’n pers ster vir jou gee
Afrika met die groen gifkool en wit tamaraka op sierlike steel
Kokerboom-Afrika wat onder brokkelwolke droom
Afrika wat jou soos ’n seekoeikalf deur die diepkuil op haar rug dra
Afrika wat in die langpad wag – ’n waterput dorstig na die gelag
van troppies kinders en boerbok
Afrika wat geslagte lank onbeskaamd vir jou jok
asof haar heel maan ’n gekrulde slang – soms swart soms geel
Afrika wie se voetstappe gehoor word deur haar keel
Stom Afrika met die blasende trapsuutjiebek en flapnek
Afrika wat van kindsbeen af ’n modderlyf teen jou kom skuur
soos ’n olifant teen ’n boom
Afrika wat jou regterheup met boegoeroom wou salf
Afrika wat jou gemartel het en laat leef
Oopwond-Afrika
wat die rooi dagbreek agter die berg suutjies nader neurie