Читать книгу Woud van nege en negentig vlerke - Carina Stander - Страница 19

om die grond te groet

Оглавление

maar die liefde sal jou agtervolg

jy sal honger na die smaak

van gebrande-oranje somers

en die ambergloed

van haar namiddae

uit die blou van onse hemel

sal jou lugskip nader kom

vol verlange na die grond

van jou oerbegin en dood

die seewolftrop sal jou van ver af hoor

die wyfies van die harem

die kleintjies wat nes donkies balk

sal swemvinne waarskuwend flap

en jou van hierdie land verjaag

in die seegrot sal jy skramsweg sien

hoe sy haar okerrooi insmeer:

sirkels om die borste

borste teen die wind

die stippels van ’n klippad

soos spore teen haar been

jy sal offer om haar hart te wen:

’n stoetbul met blink hoewe

’n skilpaddop vol snuif

klokkies en ivoor vir polse

stringetjies van helmskulp

miskien miskien sal sy dié keer

die maanskulp teen haar oor vasdruk;

sal sy ooit weer jou stem herken

uit die dieptes van die see?

jy sal fluite speel en dans

jy sal huil van die geluk

ek’s terug ek’s hier sal jy skree

oor die ewige gebergtes

waar die kranse antwoord gee

maar niemand sal jou eggo nie

jou skaduwee reeds lank vergeet –

vir hierdie kontinent het jy

soos stof of wind bestaan

dalk sal jy terugklim in die skip

en wegvlug na jou anderland

maar die liefde sal al om jou hand

en jou hakskeensening snuif

Woud van nege en negentig  vlerke

Подняться наверх