Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 13

Tipe 1-diabetes

Оглавление

Tipe 1-diabetes verskyn in die kinderjare of puberteit en soms in jong volwassenes (meestal voor die ouderdom van 30). Minder as 15 persent van diabete het tipe 1-diabetes. Dit is ’n ernstiger vorm as tipe 2-diabetes en vereis gereelde insulieninspuitings. Dit word hoofsaaklik deur ’n outo-immuunwanfunksie veroorsaak. Dit beteken dat die liggaam se immuunstelsel sy eie selle aanval en vernietig, naamlik daardie selle wat die hormoon insulien in die beta-selle van die pankreas vervaardig. Altesaam 75 persent van insulienafhanklike diabete het teenliggaampies teen hulle pankreasselle. Dit lei daartoe dat daar te min insulien is om die suiker uit die bloed na die vet- en spierselle te vervoer.

Tipe 1-diabete moet gewoonlik daagliks vir die res van hulle lewe insulieninspuitings kry. Hulle kan egter hulle insulienbehoeftes verminder deur die regte voedselaanvullings en spesifieke kruiemiddels te gebruik, onderliggende vasgekeerde en moontlik oorgeërfde emosies in ag te neem, asook ’n paar leefstylveranderinge te maak, soos gereelde oefening, ontspanningstegnieke en beter koskeuses. Die doel van tipe 1-diabete behoort te wees om insulienvereistes so laag moontlik, en veral die kardiovaskulêre stelsel so gesond moontlik, te hou.

Leefstylveranderinge sluit in gesonde eetgewoontes met onverfynde kosse wat ’n lae glisemiese indeks (GI) het, volgraanprodukte met ’n hoë voedingswaarde, koolhidrate, hoë veselinname, vars groente en beperkte vrugte (drie per dag), genoegsame inname van proteïen en gesonde olies, geen alkohol (dit verhoog die bloedsuikervlakke), dieselfde aanvullings as vir tipe 2-diabetes, baie oefening, daaglikse ontspanning en stresbestuur. Hoë stresvlakke ontlok en bespoedig of versnel hipoglukemiese aanvalle en maak dit ook uiters moeilik vir tipe 1-diabete om hulle bloedsuikervlakke te beheer.

Glisemiese indeks (GI) is ’n meting wat gedoen word op voedsel wat koolhidrate bevat, met betrekking tot die uitwerking van die voedselsoort op bloedsuiker. GI meet die invloed van voedsel op werklike bloedsuiker. Koolhidrate word geklassifiseer as baie laag, medium of hoog in GI-waarde. Voedsel met ’n hoë GI (onverfynde brood, gebak, lekkers, witsuiker) laat bloedsuiker vinnig styg, met ’n skielike styging in insulienvlakke om die glukose uit die bloed na die insulienafhanklike selle te vervoer, terwyl kos met ’n lae GI (volgraan, op ’n meulsteen gemaal, rogbrood, bruinrys, hawermout, quinoa) ’n meer geleidelike vrystelling van glukose uit die dermkanaal na die bloedstroom verseker, met ’n stadige afskeiding van insulien uit die pankreas en ’n geleidelike absorpsie van glukose uit die bloed tot binne in die selle – dus baie gesonder en meer gebalanseerd.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх