Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 16

LAE BLOEDSUIKER

Оглавление

Jong meisies en vroue met lae bloedsuiker (hipoglisemie) moet bewus wees dat hulle dalk later in hulle lewe diabetes kan ontwikkel. Die feit dat hulle bloedsuikervlakke te laag daal, is ’n aanduiding van oorafskeiding van insulien deur die pankreas en/of oorsensitiwiteit van insulienreseptore op die selmembrane. Dit veroorsaak dat die selle glukose te vinnig absorbeer. Die bloedglukosevlak daal gevolglik baie laag, wat weer tot ’n daling in glukose aan die brein en insulienafhanklike selle lei. Daar is dus reeds ’n abnormale glukosemetabolisme.

Nog ’n algemene probleem met lae bloedsuiker word ‘storting’ (dumping) van bloedsuikervlakke genoem. As jy te honger word weens ongereelde eetgewoontes en boonop die verkeerde kos eet, daal jou bloedsuikervlak baie laag en jy voel naar, het nie energie nie en is selfs hongerder. Dan eet jy ’n groot plak sjokolade en jou bloedsuikervlak skiet die hoogte in. Die pankreas gaan in hoogste versnelling en skei te veel insulien af. Jou liggaamselle raak te vinnig van die glukose ontslae, en dit laat jou bloedsuikervlak laer daal as wat dit aanvanklik was (vgl. die spitslyn in die diagram). Jy voel siek, lusteloos, geïrriteerd en depressief. As jy dit gereeld doen, sal jy voortdurend moeg en selfs depressief, naar en duiselig voel. Die wipplankryery van ongebalanseerde bloedsuikervlakke is baie ongesond. ’n Paar jaar van skommelende glukosevlakke kan ook tot tipe 2-diabetes lei, terwyl gesonde eetgewoontes met glukosevlakke wat deur die dag matig styg en daal (vgl. die golflyn in die diagram), sal keer dat dit gebeur en jou liggaamselle in staat stel om die glukose nodig vir brandstof op ’n gebalanseerde manier te gebruik.


’n Goeie voorbeeld van ’n dag met gesonde eetgewoontes en matig stygende en dalende bloedsuikervlakke wat brandstofbalans (en dus jou energie) in stand hou:

Ontbyt (nadat jy wakker geword het; andersins, as jy nie vroeg in die oggend kan eet nie of te haastig is, neem dit saam en eet by die werk): klein bakkie hawermoutpap met ’n bietjie melk en rou heuning na smaak, óf jogurt en een vrug.

Peuselhappie in die oggend: een vrug of ’n hand vol neute (hou altyd byderhand in jou laai by die werk of in jou skooltas).

Middagete: proteïenporsie (bv. een hardgekookte eier, óf koue hoenderdytjie, óf twee skyfies ham), met ’n slaai wat uit ’n verskeidenheid bestanddele bestaan, en ’n sny rogbrood of volgraanbrood.

Peuselhappie in die middag: ’n hand vol neute of droëvrugte.

Aandete: volstruisfilet, rooivleis, vis of hoender (maak genoeg vir die volgende dag se middagete) met vars, effens gekookte groente en basmati- of wilderys.

Voor slaaptyd: geniet ’n klein piesang. Piesangs is voedsaam en bevat ook triptofaan, voorloper van serotonien (‘goedvoel’-peptied), om jou te laat ontspan en ’n goeie nagrus te laat geniet. ’n Ander opsie is warm melk met ’n bietjie heuning, ’n knippie gemmer en kaneel.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх