Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 22

In ’n neutedop

Оглавление

•Leefstylveranderinge vir tipe 1- en tipe 2-diabete:

–Gesonde eetgewoontes met onverfynde koolhidrate met ’n lae glisemiese indeks (GI) (bv. volgraan, hawermout, rog, bruin- en wilderys, muesli, peulgroente, koue aartappels), hoë veselinname, vars groente en beperkte vrugte (drie per dag), genoeg proteïen van hoë gehalte (bv. maer vleis, vis, eiers) en beperkte hoeveelheid versadigde vette

–Geen alkohol (dit laat bloedsuikervlakke maklik styg)

–Geskikte voedselaanvullings

–Baie oefening

–Stresbestuur. Stres bevorder hipoglisemiese (oftewel lae bloedsuiker) aanvalle en maak dit ook uiters moeilik vir diabete om hulle bloedsuikervlakke te beheer.

•Tipe 2- of volwasse-aanvangs-diabetes ontstaan gewoonlik in die middeljare of tydens swangerskap. Dit is die meer algemene vorm van diabetes (meer as 85 persent van diabete het tipe 2-diabetes). Met tipe 2-diabetes vervaardig die liggaam insulien, maar kan dit nie doeltreffend gebruik nie, want die insulienafhanklike selle verloor óf hulle sensitiwiteit vir insulien (insulienweerstandigheid) óf het te min insulienreseptore.

•Belangrike omgewingsfaktore wat tipe 2-diabetes bespoedig, is vetsug en ’n gebrek aan oefening. Deur slegs ’n paar kilogram te verloor en matig te oefen, soos vier keer per week vir ’n halfuur te stap, sal die toestand verbeter.

•Tipe 2-diabetes is geneig om in families voor te kom. Genetiese faktore is belangrik in vatbaarheid vir diabetes, maar omgewingsfaktore (vetsug, ongesonde eetgewoontes, stres) is nodig om dit aan die gang te sit.

•Diabetes en die komplikasies daarvan is die derde algemeenste oorsaak van dood.

•Diabetes kan ook kardiovaskulêre siekte (die hoofoorsaak van dood) veroorsaak of vererger.

•Diabetes, soos hoë bloeddruk, is dikwels ’n rustende (slapende) siekte wat gevorderde skade kan aanrig voordat dit gediagnoseer word.

Die meeste mense met volwasse-aanvangs- of tipe 2-diabetes kan hulle bloedsuikervlakke beheer deur vetgewig te verloor, ’n dieet te volg wat bestaan uit sorgvuldig uitgesoekte en beheerde hoeveelhede onverfynde (komplekse) lae GI-koolhidrate en vesel, gesonde olies en proteïen, groente, neute en sade, asook voedselaanvullings, gereelde oefening en daaglikse ontspanningstegnieke. Mense met ’n familiegeskiedenis van diabetes, of wie se vastende insulien- en bloedsuikervlakke hoog is of in die hoog-normale reikwydte val, kan die siekte op dieselfde manier voorkom.

Soos met ander chroniese leefstylsiektes (gesondheidsuitdagings), kan die aanvanklike diagnose van diabetes mense dikwels laat stil word, mymer en hulle leefstyl in oënskou neem. Baie mense beskou hulle siekte as die enkele belangrikste faktor wat tot ’n kentering of ommeswaai in hulle gesondheid en welwees gelei het. Stres is ook ’n belangrike sneller in die aanvang van diabetes (en alle ander chroniese leefstylsiektes of gesondheidsuitdagings). Stresbestuur en daaglikse ontspanningsoefeninge is daarom noodsaaklike werktuie om die siekte te hanteer.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх