Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 35

Inflammasie: boesemvriend én aartsvyand

Оглавление

Geen boek oor diabetes is volledig sonder dat ons na inflammasie as vriend én vyand kyk nie. As vyand is inflammasie die gemene deler wat in alle chroniese degeneratiewe siektes aanwesig is, waarvan diabetes ’n hoofvoorbeeld is.

Die woord inflammasie kom van die Latynse woord inflamatio, wat beteken om te ontsteek, aan die brand te steek. Chroniese inflammasie is die brandstof wat die vuur van hedendaagse chroniese degeneratiewe siektes hoog laat brand – in die terminologie van welwees word dit eerder gesondheidsuitdagings genoem, en hiervan is diabetes en spanmaats hoë bloeddruk, hartsiekte, metaboliese sindroom, oorgewig en vetsug, en ook depressie die belangrikstes.

Die liggaam het ’n ingebore intelligensie, ’n inherente vermoë en geneigdheid tot genesing, deur die inflammatoriese reaksie as deel van die natuurlike oorlewingsgenesingsmeganisme te gebruik. Wanneer ons op ’n fisieke, siels-, emosionele en gedragsvlak met hierdie proses inmeng, onder meer deur ons leefstylkeuse, ongesonde eetgewoontes, stresvolle manier van leef, en veral deur die konstante stressnellers van onderliggende en diep onderbewuste, vasgekeerde geheue-emosionele snellers, saboteer en kaap ons hierdie natuurlike reaksie. Dan laat ons sluimerende inflammasie toe om ’n bedreiging, en selfs ’n stille moordenaar te word, eerder as om ons gesondheid en welwees te ondersteun.

Die meeste van ons het, en sal in die toekoms, las hê van ’n seer keel, verkoue en griep, veluitslag, insekbyte, sonbrand, hooikoors of beserings. Jy sal deeglik hiervan weet omdat inflammasie tipiese simptome van rooiheid, pyn, swelsel en verhoogde temperatuur (hitte) op die aangetaste gebied sal laat ontstaan, wat uiteindelik tot verlies aan funksie sal lei as dit nie ingeperk word nie. Die akute inflammatoriese reaksie is ’n normale en gepaste respons van die immuunstelsel (verdedigingstelsel) op beserings en potensiële siekte deur die liggaam ontslae te laat raak van organismes soos virusse en bakterieë, om hierdie en ander toksiene uit die liggaam te verwyder, en dit in staat te stel om van beserings en trauma te genees. Hierdie proses is die liggaam se aanvanklike reaksie op selskade, en die doel is om die immuunstelsel se verdedigingsmeganismes bymekaar te kry om teen indringers van buite te veg. Dit is ook ontwerp om genesing te bevorder deur beskadigde weefsel te herstel en enige toksiene en oorblywende afval uit die liggaam te verwyder. Sonder die proses van inflammasie sou die liggaam nie vinnig van wonde, trauma, beserings en infeksies kon herstel nie. Hierdie soort akute inflammatoriese reaksie is goed. Ons het dit nodig om te oorleef.

Die inflammatoriese proses kan ’n probleem raak wanneer die verdedigingstelsel buite beheer raak, byna soos ’n muitery, waar die manskappe hulle eie lewensbestaan vernietig, of soos ’n wegholtrein. ’n Ooraktiewe immuunstelsel, waar daar oormatige en onvanpaste inflammasie is, is tipies van allergieë soos asma, ekseem, hooikoors, outo-immuunsiektes, soos tipe 1-diabetes, rumatoïede artritis, psoriase en Chron se siekte. Onbeheerde inflammasie is ook duidelik in toestande soos artritis, brongitis, laringitis, sinusitis, gastritis, kolitis en blindedermontsteking. Die agtervoegsel ‘-itis’ beteken ‘inflammasie van …’ en die voorvoegsel dui die spesifieke orgaan of stelsel aan.

Baie studies toon dat verskuilde sistemiese (wat die hele liggaam of ’n spesifieke stelsel aantas) inflammasie die gemene deler van die meeste, indien nie alle nie, hedendaagse chroniese siektes kan wees, selfs wanneer die ooreenkoms nie voor die hand liggend is nie. Dit sluit in diabetes, hartsiekte, metaboliese sindroom, vetsug, kanker, demensie, depressie, Alzheimer-siekte, artritis en selfs outisme. Dit is die slegte inflammasie wat regtig lelik kan raak as dit nie beperk word nie. Dit is die chroniese inflammasie, wat net onder die oppervlak van ons fisieke bewustheid daarvan onophoudelik smeul en gis, en wat ’n stille moordenaar kan word terwyl dit geleidelik ons selle se funksies en uiteindelik ons organe kan vernietig. Dit is ook die inflammasie wat veroudering bespoedig.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх