Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 38

Simptome van chronies verhoogde insulienvlakke

Оглавление

Soos duidelik in die onderstaande diagram aangetoon word, is oormatige insulien verantwoordelik vir ’n hele rits wanbalanse. Oksidatiewe stres met ’n toename in vrye radikale is een van die belangrikste oorsake in elke enkele chroniese siekte soos diabetes en hartsiekte. Die gevolg is nog ’n bose kringloop van een wanbalans wat tot baie ander lei. ’n Afname in sommige neuro-oordragstowwe (inligtingstowwe) soos serotonien en dopamien sal tot laegraadse depressie (distimiese versteuring) lei, en daarna uitgesproke depressie. ’n Toename in inflammatoriese neuro-oordragstowwe sal die inflammasie vererger. Dit is duidelik dat verhoogde insulien ’n uitwerking op alle organe en stelsels in die liggaam het.


Verhoogde insulienvlakke laat ook die produksie van aragidoonsuur, ’n vetsuur, styg, wat daartoe lei dat pro-inflammatoriese prostaglandiene vervaardig word. Ongelukkig beperk dit ook die produksie van anti-inflammatoriese prostaglandiene.

Nog ’n oorsaak van insulienweerstandigheid én sistemiese inflammasie is die vetselle wat om die abdominale organe en maaggebied begin versamel. Navorsing toon dat hierdie soorte vetselle, wat in grootte eerder as hoeveelheid toeneem, groot hoeveelhede inflammatoriese stowwe, wat sitokiene genoem word, teweegbring. Verskeie wetenskaplike, mediese en voedingkundige joernale vermeld hierdie verband tussen hoë vlakke van die sitokien-inflammatoriese merkers, verhoogde insulienvlakke weens ’n bloedsuikerwanbalans, en inflammasie weens vetsug.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх