Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 39

Takel die oorsaak van chroniese, verskuilde inflammasie

Оглавление

Dit is eerstens belangrik om die snellers vir inflammasie te herken. Sommige van die mees ongewone onderliggende snellers of oorsake van chroniese inflammasie:

•Die enkele grootste sneller vir inflammasie is die inname van ongesonde kos, ryk aan verfynde suiker en meel, trans- en hidrogeneerde vette, alkohol, kunsmatige en sintetiese bestanddele en veral kunsmatige versoeters wat aspartaam bevat. Verpakte en verwerkte kosse, veral dié wat vol hormone, antibiotika, kleurstowwe en preserveermiddels gelaai is, is ook ’n groot oorsaak van inflammasie.

•Voedingstekorte, veral van die vitamien B-kompleks, vitamiene C, E en D, minerale, sink, boor, selenium, kalsium, en veral magnesium en omega-3-vetsure

•Langdurige emosionele stres (wat voortdurend die liggaam oorspoel met chemikalieë vir die veg-óf-vlug-reaksie terwyl die liggaam die denkbeeldige ‘vyand’ probeer afweer om te oorleef), waar toksiese, ontsteekte en vasgekeerde emosies letterlik as snellers vir inflammasie kan dien

•Allergene in die omgewing, soos stuifmeel, skimmel (muf/swamme), stof, ens. Dit is skadelose stowwe wat die hiperreaksie in die immuunstelsel aanskakel om ’n oordrewe inflammatoriese respons te veroorsaak

•Toksiene in die omgewing, soos kwik, besoedeling en plaagdoders

•Voedselallergene, wat onmiddellike én vertraagde allergieë veroorsaak, soos koring (gluten), suiwel, eiers, gis, mielies, grondbone, sitrus, soja, skulpvis en neute

•Herhaalde infeksies of chroniese laegraadse infeksie met virusse, bakterieë, gis (candida) en parasiete

•Stoelpatat leefstyl met gebrek aan oefening

•Oormatige gewig om die maag

•Hoë cholesterol, veral trigliseriede en LDL-cholesterol, met lae HDL-cholesterol

•Hoë C-reaktiewe proteïen (CRP)

•Langdurige fisieke trauma en besering

•Onvoldoende slaap (minder as sewe uur per nag, of ligte slaap, of word maklik en gereeld in die nag wakker)

•Afbreek van weefsel wat verband hou met chroniese siekte.

Mense wat nie goed of genoeg slaap nie, het verhoogde vlakke van interleukin-6 (IL6), die chemiese stof wat inflammasie in die liggaam veroorsaak. Ons biologiese klok en magnesiumstatus hou met mekaar verband, en voldoende magnesium is belangrik vir die funksionering van die pineaalklier en die hormoon wat dit afskei, naamlik melatonien. Magnesium (met kalsium) het ’n kalmerende uitwerking wat dieper ontspanning en beter slaap bewerkstellig. Melatonienvlakke bereik ’n maksimum ná ses uur se diep slaap, en dit is in hierdie tydperk dat optimale genesing en herstel van alle selle en weefsel plaasvind. Daarom is slaap noodsaaklik om die inflammatoriese reaksie in balans te hou (vgl. hoofstuk 9).

Die gewone benadering tot inflammasie kan meer skade aanrig as wat dit genesing bring. Inflammasie is die verskuilde oorsaak van chroniese siekte soos diabetes. Dit is tyd om te verstaan dat die menslike liggaam ’n volledige, funksionerende eenheid is, en nie ’n stel afsonderlike organe en stelsels wat elk op sy eie optree nie.

Inflammasie is nie spesifiek tot een orgaan beperk nie, maar kan enige orgaan of veelvuldige stelsels aantas. ’n Geïntegreerde benadering is daarom noodsaaklik. Die uitwerking van inflam-masie word meestal deur die verskillende spesialiste se fokus op die spesifiek manifesterende orgaan of stelsel behandel, eerder as ’n sistemiese, geïntegreerde benadering wat na die mens as geheel kyk, met die hoofoorsaak van baie siektes as ’n sistemiese inflammatoriese reaksie wat skeefgeloop het.

In my holistiese mediese praktyk sien ek baie pasiënte wat elk gemiddeld 7 tot 12 verskillende soorte voorskrifmedisyne gebruik, wat deur spesialiste in elke onderskeie veld aanbeveel word, onder meer vir hoë bloeddruk, asma, diabetes, artritis en depressie! Dan sê hulle vir my hulle voel wonderlik, want alles word met die medikasie beheer. Hulle kom my net spreek weens werkverwante stres en uitputting! Al hierdie stelsels hou met mekaar verband via die gemene deler van die inflammatoriese reaksie.


Tipiese anti-inflammatoriese medikasie wat in hoofstroommedisyne gebruik word, soos ibuprofien of aspirien en steroïede, soos prednisoon of kortisoon, kan nuttig wees vir akute inflammasie en beserings, maar op die lang duur meng hulle met die liggaam se eie immuunreaksie in. Dit kan tot ernstige en dodelike newe-effekte lei.

Die bekendste van alle anti-inflammatoriese middels is aspirien, wat dikwels meer ernstige probleme veroorsaak as wat dit verlig. Alle mediese praktisyns ontvang bykans elke week pamflette van farmaseutiese maatskappye wat aankondig dat talle anti-inflammatoriese middels (meestal NSAIM’s of nie-steroïedale anti-inflammatoriese middels) van die mark onttrek word weens ernstige newe-effekte! Ons kan nie wag vir die middels om onttrek te word voordat ons ophou om dit te gebruik nie. Die meeste pyn- en anti-inflammatoriese medikasie is nie veilig nie, en selfs pynmedikasie wat oor die toonbank gekoop word, kan skadelik wees.


Hierdie middels onderdruk in werklikheid inflammasie deur sleutelensieme (COX-1 en COX-2), wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van prostaglandiene wat geneig is om inflammasie en pyn in die liggaam te bevorder, te blokkeer. Dit kan korttermynverligting bring, maar op die lang duur kan hierdie middels skadelik wees vir die liggaam. Benewens die feit dat dit nadelige newe-effekte het (wat inwendige bloeding, nier- en lewerskade insluit), blokkeer anti-inflammatoriese middels en steroïede soos kortisoon en prednisoon ook pro-inflammatoriese én anti-inflammatoriese prostaglandiene. Sodoende meng dit in met die liggaam se eie immuunreaksie en vermoë om homself te genees en te herstel.

Hou altyd onderliggende inflammasie in gedagte: ’n Eenvoudige bloedtoets kan die alarm laat afgaan en dalk jou lewe red.

Hartsiekte is een van die algemeenste gesondheidsuitdagings onder mans en vroue. Kardiovaskulêre siekte word tans herdefinieer as ’n inflammatoriese siekte van die bloedvate. Bloedtoetse is beskikbaar wat vlakke van C-reaktiewe proteïen (CRP) meet, ’n proteïenmolekule wat in die lewer geproduseer word in reaksie op inflammasie. Verhoogde CRP-vlakke kan op ’n hoë mate van sistemiese inflammasie in die liggaam dui.


Hierdie kliniese merker van inflammasie word nou as ’n selfs meer akkurate vroeë aanduider as cholesterol of trigliseriedvlakke vir die risiko van hartsiekte beskou. Volgens die Amerikaanse Hartvereniging toon studies hoe hoër die hs-CRP-vlak (hs = hoë sensitiwiteit-tipe CRP-toets), hoe hoër die risiko vir ’n hartaanval. In ’n studie van ’n bevolking van bejaardes wat oor die algemeen as gesond beskou is, was dié met die hoogste CRP-vlakke en Interleukin-6 (nog ’n merker van sistemiese inflammasie) 260 persent meer geneig om binne ’n tydperk van vier jaar te sterf as dié met lae vlakke van inflammatoriese merkers.

Studies toon ook hoe langer ’n persoon verhoogde vlakke van CRP het, hoe groter is sy of haar kans om die een of ander vorm van chroniese siekte te ontwikkel. Die teenwoordigheid van inflammasie, aangedui deur verhoogde CRP-merkers, kom ook voor in ander algemene gesondheidsuitdagings, soos diabetes, kanker, Alzheimer-siekte, Parkinson-siekte, allergieë, asma, fibromialgie, prikkelbare-dermsindroom, ekseem en outo-immuunsiekte.

Die oplossings vir inflammasie wat buite beheer is, word in hoofstuk 9 in meer besonderhede bespreek.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх