Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 34

Hipoglisemie

Оглавление

Klinies kan hipoglisemie beskou word as skommelings in bloedsuiker. Mense met hipoglisemie kan simptome soos lighoofdigheid, geïrriteerdheid, bewerigheid, swak konsentrasie en moegheid tussen maaltye, wat dikwels verlig word wanneer iets geëet word, ervaar. Hierdie simptome is stressimptome wat deur die liggaam opgewek word as ’n roepe na brandstof, oftewel glukose. Die stressimptome lei ook tot ’n styging in kortisolvlakke – die langtermyn-streshormoon.

Mense met hierdie patroon en tydperke van lae bloedsuiker sal stuwings van insulien hê, eerder as chronies verhoogde vlakke. Gewoonlik sal die liggaam op lae bloedsuiker reageer deur kortisol en glukagon te vervaardig om bloedsuikervlakke te laat styg. Dié met hipoglisemie kan egter verminderde bynierfunksie hê, en maak dan staat op adrenalien om bloedsuiker tussen maaltye te laat styg deur glikogeen af te breek. Dit lei tot die bewerigheid en lighoofdigheid tussen maaltye. Simptome word gewoonlik verlig nadat geëet is, te danke aan die glukose wat maaltye verskaf.

Mense met lae bloedsuiker sal dikwels ook te veel grelien en glukagon afskei, te veel koolhidrate met ’n hoë GI oftewel glisemiese indeks (sjokolade, suikerryke kosse, koekies) of selfs te veel gesonde kosse, weens uiterste honger, inneem. Gevolglik skiet hulle bloedglukosevlakke die hoogte in en veroorsaak dat te veel insulien deur die pankreas vrygestel word. Die glukose word dan te doeltreffend verwyder en dit lei tot erger simptome as voordat hulle geëet het. Die beste is om klein, gesonde peuselhappies tussen gesonde maaltye te eet: ’n hand vol neute, ’n sny lae GI-volgraan- of rogbrood, jogurt, droëvrugte, twee Provitas of ander volgraanbeskuitjies.

Hipoglisemiese simptomeInsulienweerstandige simptome
Voel beter ná maaltyeVoel moeg ná maaltye
Suikerdrange voor maaltyeSuikerdrange ná maaltye
Mag sukkel om deurnag te slaapMag sukkel om snags aan die slaap te raak

Hierdie siklus kom algemeen voor in mense met, of sonder, vetsug of oorgewig mense: lae bloedsuiker lei tot simptome van swakheid of onwel-wees, dan eet hulle te veel (selfs van gesonde kos; dikwels met ’n obsessie oor peuselhappies), met stuwings in bloedsuikervlakke wat lei tot verhoogde insulienvlakke, wat lei tot verhoogde kortisolvlakke, wat lei tot hoër bloedsuikervlakke, en dan voel hulle slegter – nog ’n bose kringloop! Die hipoglisemiese tuimeltrein lei dikwels tot tipe 2-diabetes later in die lewe.

Nog ’n manier waarop hierdie siklus geaktiveer kan word, is via kortisol, die langtermyn-streshormoon. Enigiets wat kortisol laat styg (hoë stresvlakke, stresvolle emosies, te veel werk, infeksie, voedselallergieë, inflammasie, ens.) sal ook bloedsuiker laat styg om brandstof te verskaf vir die klassieke stresreaksie: veg óf vlug (omgeskakel in gevoelens van woede, vrees, kommer) en daarom insulienvlakke. Met ander woorde, jy kan ’n perfekte dieet en oefenprogram volg, maar as jy verhoogde kortisolvlakke het, kan jy ook jou bloedsuiker van binne af laat styg. Kortisol is verantwoordelik daarvoor om die spens vol te maak om tydens die maer jare te oorleef – en die spens is jou maag!


Simptome van hoë kortisolvlakke, meestal weens ’n innerlike staat van chroniese erge stres, gegrond op hoe jy ‘voel’, sluit die volgende in:

•Kosdrange

•Vermeerderde abdominale vet (boepens)

•Insulienweerstandigheid

•Hoë bloedsuiker

•Gemoedskommelings

•Hoë angsvlakke

•Benewelde (wollerige) brein

•Geïrriteerdheid

•Maagseer

•Lae immuunfunksie (gepaard met gereelde verkoues en infeksies)

•Hoë bloeddruk

•Versteurde slaap

•Depressie

•Voortydige veroudering

•Verlies aan spier- en beenmassa

•Haarverlies

•Velprobleme, soos ekseem en aknee

Insulien en kortisol is noodsaaklik vir lewe. Daarsonder kan ons nie leef nie. Maar, soos met die meeste hormone, moet hulle altyd in balans wees.

Om op te som wat in diabetes gebeur:


Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх