Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 37

AKUTE VERSUS AKUTE TOT CHRONIESE VERSUS CHRONIESE INFLAMMASIE Chroniese inflammasie

Оглавление

Dit wat as ’n normale, gesonde immuunreaksie begin, verander in ’n uitgerekte, onbeheerde reaksie wat selle en weefsel van die liggaam vernietig, en chronies word. Dit berei die pad voor vir degeneratiewe siekte en versnelde veroudering. In die geval van outo-immuunsiekte, is die immuunstelsel so ongebalanseerd dat dit sy eie volmaak gesonde weefsel aanval en vernietig in plaas daarvan om die bron van die inflammasie aan te val.


Wanneer die liggaam hierdie verdedigende houding moet handhaaf, put die hiperbewuste immuunstelsel en brandende inflammasie die liggaam se energie- en hulpbronne uit. Die liggaam se vermoë om optimaal te funksioneer word bemoeilik wanneer organe en stelsels geleidelik afgebreek word. Hierdie verskuilde inflammasie is die hoofoorsaak van chroniese siektes.

Die meeste dokters en wetenskaplikes stem saam dat die aanvanklike manifestering van bykans elke siekte wat bekend is, chroniese inflammasie in en om die selle is. Hierdie stille, chroniese inflammasie het nie die tipiese simptome van akute inflammasie (rooiheid, swelling, pyn, verhoogde temperatuur/hitte) nie, en kan weke, maande, jare of selfs ’n leeftyd lank ongemerk voortduur, en slegs manifesteer as ’n algemene onwel gevoel, moegheid en gebrek aan energie. Uiteindelik kan simptome verskyn, dikwels wanneer te veel skade, met erge verlies aan funksie, reeds plaasgevind het. Dit is waarom chroniese inflammasie soms die stil, sluipende moordenaar genoem word.

Chroniese inflammasie word met diabetes, hoë bloeddruk, kanker, hartsiekte, vetsug, depressie en demensie verbind.

Die ooraktiewe immuunreaksie wat met chroniese inflammasie verbind word, lei tot algemene toestande soos allergieë, rumatoïede artritis, outo-immuunsiektes en asma. In die geval van asma is daar blywende inflammasie in die longe. Hierdie voortdurende irritasie lei tot verhoogde sensitiwiteit van die longweefsel. Die lugweë raak oorsensitief vir eksterne stimuli soos temperatuurveranderinge en omgewingsfaktore soos dierehare en stuifmeel. Hierdie verhoogde sensitiwiteit lei dan tot akute asma wanneer die vernouing van die lugweë asemhaling moeilik maak. Allergiesimptome sluit algemene chroniese inflammatoriese reaksies soos rinitis (inflammasie van die neus), sinusitis (inflammasie van die sinusse) en asma (inflammasie van die lugweë) in. Chroniese inflammasie is ook die booswig agter artritis (inflammasie van die gewrigte), dermatitis, aknee, ekseem en versteurings van die spysverteringstelsel soos prikkelbare-dermsindroom (spastiese kolon) en gastritis.

Depressie word ook verbind aan inflammasie, hartsiekte en diabetes. ’n Studie wat aan die Emory University School of Medicine gedoen is, het bevind dat sielkundige stres in mense tot ’n oormatige inflammatoriese respons lei. Die bevindinge, wat in die American Journal of Psychiatry gepubliseer is, wys dat individue wat aan depressie ly meer geneig is om ’n inflammatoriese reaksie te ontwikkel weens die emosionele versteuring, in vergelyking met mense wat nie aan depressie ly nie.

Die verband tussen inflammasie en diabetes, metaboliese sindroom, hartsiekte en depressie bevat ’n gemene deler: verhoogde insulienvlakke.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх