Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 29

LEPTIEN: NOG ’N SPELER IN DIE BALANSSPEL VAN GLUKOSE, BRANDSTOF EN ENERGIE

Оглавление

Leptien is ’n hormoon wat ’n sleutelrol speel in die regulering van energie-inname en -verbruik. Saam met insulien en glukagon is dit waarskynlik een van die belangrikste hormone in jou liggaam wat gesondheid en langlewendheid bepaal. Leptien verhoog die sirkulering van glukose, insulien en glukagon.

Sowel insulien- as leptienweerstandigheid word met vetsug en oorgewig verbind, asook tipe 2-diabetes. Verswakking van hierdie hormone se vermoë om aan hulle spesifieke reseptore te bind om doeltreffende boodskappe deur te voer na die selle, is die wesenlike oorsaak van die chroniese inflammasie wat alle chroniese degeneratiewe siektes kenmerk.

Metabolisme is die biochemie wat kos in energie verander as brandstof vir lewe, en daarom is insulien en leptien albei kritiek vir gesondheid. Insulien en leptien werk saam om jou metabolisme se gehalte te beheer, en saam met die skildklierhormone, om jou metabolisme se tempo te onderhou.

Volgens navorsers sal insig in hoe leptien en sy reseptor met mekaar in wisselwerking is, dit moontlik maak om nuwe behandelings vir vetsug en ander metaboliese versteurings soos tipe 2-diabetes, asook vir inflammatoriese siektes soos rumatoïede artritis en psoriase, te vind.


Die leptienreseptore op selmembrane het twee skarnierbene wat op ’n spil draai totdat dit in aanraking met leptien kom. Sodra leptien aan die reseptor bind, word die bene styf, en stuur ’n sein na ’n ensiem wat ’n kinase genoem word, en die vermoë het om inflammatoriese chemikalieë wat sitokiene genoem word, te bind. Die inhibering (remming of onderdrukking) van hierdie kinase-ensieme kan help om inflammatoriese en metaboliese versteurings (vlg. die afdeling oor inflammasie later in hierdie hoofstuk) te verbeter. Sodra hormone egter in ’n wanbalans verkeer (disregulering) is meer medisyne glad nie wat nodig is nie! Leefstylveranderinge, met die regte eetplan, die regte soorte kos, voedselaanvullings en kruiemiddels, saam met intervaloefening met afwisselende intensiteit en spiertonusoefening, gekombineer met stresbestuur, gereelde meditasie en ontspanning, is wat nodig is om insulien, leptien, glukagon en energievlakke te balanseer!

Membraanreseptore is die epigenetiese raakvlak tussen die ekstrasellulêre (buite-) en intrasellulêre (binne-) omgewing en is noodsaaklik vir selkommunikasie. Hulle reageer op ’n wye verskeidenheid ekstrasellulêre stimuli uit die epigenetiese omgewing. Hierdie reseptore is die teikens van die meeste middels wat vir menslike siektes voorgeskryf word. Hormonale aktivering van hierdie reseptore lei daartoe dat intrasellulêre proteïene ingespan word, met gevolglike aktivering van intrasellulêre seingebeure (vgl hoofstuk 3). Ons doelwit in hierdie boek is om die wanfunksionering van membraanreseptore in chroniese leefstylsiektes soos vetsug, diabetes, hartsiekte en depressie te verstaan en om dan holistiese, integrerende strategieë voor te stel om hierdie siektes te bestuur.

Navorsing op die voorpunt ondersoek tans die integrerende en nimmereindigende spiraalaksie van ons hormoonorkes, byvoorbeeld die fyn balans tussen melatonien, insulien, glukagon, leptien en grelien, en die harmonieuse musiek wat hulle in ’n gesonde liggaam maak. Die hoofrede agter hierdie navorsing is egter om te soek na middels wat die natuurlike hormonale boodskappe in die liggaam kan stimuleer of selfs vervang. Dit is ’n soektog in die verkeerde rigting! Deur holistiese maatreëls in te stel, kan die liggaam se natuurlike staat van geluk en gesondheid herstel word. Die liggaam sal dan sy eie balansmeganismes herontdek.

Sielsversteurings (bv. depressie), kardiovaskulêre en metaboliese siektes (bv. vetsug en tipe 2-diabetes) is groot gesondheidsuitdagings wat gebreke in membraanreseptorfunksie en die inflammatoriese reaksie behels. Die fokus van navorsing identifiseer stadigaan die verhouding tussen die melatonienreseptorfamlie, metaboliese versteurings (diabetes en insulienweerstandigheid) en sielsversteurings, asook die wisselwerking met leptien, die vervoer daarvan na die brein, die gastro-intestinale hormone en die beheer van voedselinname. Dit is fassinerende navorsing, gegrond op vordering in Era II-medisyne wat in hoofstuk 3 bespreek word. Dit word al duideliker dat ons innerlike harmonieuse orkes met al sy hormonale instrumente baie nou met mekaar verbind is en mekaar wedersyds beïnvloed in die musiek van ons lewe, waarvan ons natuurlike ingesteldheid een van homeostase is.

Leptien is ’n uiters kragtige en invloedryke hormoon wat deur vetselle geproduseer word. Vetselle, deur leptien, sê vir die brein of jy honger behoort te wees, te eet en meer vet te maak of besig moet wees met onderhoud en herstel. Leptien is daarom die manier waarop die vetvoorraad met die brein kommunikeer om jou brein te laat weet hoeveel energie of brandstof beskikbaar is, en wat om daarmee te doen.

Indien jou leptienboodskappe behoorlik werk, sal die ekstra vet ’n skielike styging in jou leptienvlak veroorsaak wanneer jou vetvoorraad aangevul is. Dit sal die teken vir jou brein wees om nie meer honger te voel nie, op te hou eet of op te hou vet stoor en ekstra vet te begin verbrand.

Die beheer van honger is een manier waarop leptien die energiestoring beheer. Honger is ’n baie magtige, diepgewortelde instinktiewe oorlewingsdrang. Indien hierdie drang lank genoeg gestimuleer word, sal dit jou laat eet en meer energie stoor. Wilskrag is nie opgewasse hierteen nie! Al manier om op die lang duur minder te eet, is om seker te maak dat jy nie te honger word nie, en dan die regte kos te eet. Al manier om dit te doen, is weer om daardie honger-beheer-hormone te bestuur, waarvan die primêre een leptien is.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх