Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 31

BLOEDGLUKOSE (SUIKER), INSULIEN, STRES EN KORTISOL

Оглавление

Met die epidemie van diabetes en metaboliese sindroom wat die Westerse wêreld teister, het bloedsuiker en insulien hulle regmatige hoeveelheid aandag in die media gekry. Bloedsuikerbalans is ’n sleutelbeginsel in bykans elke dieetboek, van die sogenaamde Zone, lae-GI- en Banting- tot by die Atkins-dieet. En met goeie rede: ongebalanseerde bloedsuiker- (glukose-) vlakke is die oorsaak van baie gesondheidsprobleme, insluitend oorgewig, vetsug, diabetes, voortydige of versnelde veroudering en chroniese inflammasie.

In my praktyk sien ek elke dag mense met bloedsuikerwanbalanse. Nie almal van hulle is vetsugtig of eens oorgewig nie. Sommige is gesondheidsbewus. Hulle eet nie wegneemkos, lekkers, aartappelskyfies en oliebolle nie, en lê nie voor die TV nie. Sommige eet gesond, oefen gereeld, het ’n normale liggaamsamestelling en neem aanvullings, maar hulle voel steeds nie goed nie en sukkel met min energie, moegheid en selfs depressie. Dit is kernsimptome van insulienweerstandigheid en later diabetes.

Daar is twee hoofmoontlikhede wat ’n rol speel in bloedsuikerwanbalanse:

1.Insulienweerstandigheid: Dit word deur twee dinge gekenmerk, naamlik chronies verhoogde bloedsuikervlakke, en gevolglike verhoogde insulienvlakke om die bloedsuiker te help hanteer. Spier- en vetselreseptore raak weerstandig teen insulien, en daarom kan minder glukose die selle binnegaan vir optimale gebruik as brandstof vir selfunksie.

2.Hipoglisemie of lae bloedsuiker: Dit word beter beskryf as skommelings in bloedsuiker – soms hoog en soms laag.

Albei moontlikhede behels insulienstuwings. Terwyl elk sy afsonderlike metaboliese uitwerking het, sal albei probleme veroorsaak in die funksionering van die mitochondria, of kragopwekkers van die sel, want daar is nie ’n konstante, gebalanseerde voorraad bloedsuiker beskikbaar vir standhoudende adenosientrifosfaat- (ATP-) produksie nie. (Die afkorting ATP hou verband met die Engelse term, adenosine triphosphate.)

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх