Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 18

VROEË DIAGNOSE IS NOODSAAKLIK

Оглавление

Heelwat mense met tipe 2-diabetes se bloedsuiker sal nie noodwendig hoog genoeg wees om herkenbare simptome te veroorsaak nie – die rede waarom so baie diabete nie gediagnoseer word nie.

Diagnose is relatief eenvoudig – ’n vastende vingerprik-bloedtoets wat by jou primêre gesondheidsorgpraktisyn, algemene praktisyn, apteek of gemeenskapskliniek gedoen kan word. As jy ouer as 40, oorgewig en onaktief is, veral as jy ’n familiegeskiedenis van diabetes het, behoort jy jou bloedsuiker een keer per jaar te laat nagaan. Trouens, ek stel voor dat almal ten minste een keer per jaar ’n vastende vingerpriktoets vir bloedsuiker behoort te laat doen.

Indien die uitslag van die vingerpriktoets hoog is, behoort ’n volledige glukosetoleransietoets (GTT) deur ’n laboratorium gedoen te word. Waardes hoër as 5,5 mmol/liter word as hoog beskou. Ek beveel aan dat waardes hoër as 5,0 as hoog-normaal beskou behoort te word en ook as voorkombare hoë bloedsuiker wat leefstylveranderinge vereis, aangespreek behoort te word. Dit sal keer dat vlakke selfs meer styg – ware voorkomende gesondheidsorg. Indien jou vlakke binne normale perke is, maar elke jaar styg al bly dit steeds binne normale perke, is voorkomende maatreëls noodsaaklik om te keer dat jy binne ’n paar jaar diabetes ontwikkel.

’n Vastende insulientoets word ook aangedui as deel van die gereelde ondersoek, veral by mense ouer as 50 jaar, indien die vermoede bestaan dat metaboliese sindroom (hoë/hoog-normale glukose; hoë bloeddruk en cholesterol, veral hoë trigliseriede en LDL-cholesterol, met lae HDL-cholesterol; en hoë of hoog-normale insulien) of insulienweerstandigheid teenwoordig is.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх