Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 14

Tipe 2-diabetes

Оглавление

Tipe 2-diabetes (volwasse) begin gewoonlik in die middeljare of tydens swangerskap (dan word dit swangerskapdiabetes genoem). Dit is die meer algemene vorm van diabetes (85–95 persent van mense wat aan diabetes ly, het tipe 2-diabetes). Met tipe 2-diabetes vervaardig die liggaam insulien, maar die selle kan dit nie doeltreffend gebruik nie, omdat die insulienafhanklike selle óf hulle sensitiwiteit vir insulien verloor (m.a.w. insulienweerstandig word), óf te min insulienreseptore het.

Insulienafhanklike selle het insulien nodig om glukose op te neem: spier-, vet- en die meeste ander weefselselle. Brein-, pankreas-, rooibloed-, ingewand-, lewer en nierselle het nie insulien nodig om glukose op te neem nie.

’n Algemene oorsaak van tipe 2-diabetes is oorgewig of vetsug en te min oefening. Deur slegs ’n paar kilogram te verloor en matige oefening te doen, soos om vier keer per week ’n halfuur lank te stap, sal die toestand verbeter. Tipe 2-diabetes is geneig om in families voor te kom.

Diabetes en die komplikasies daarvan is die derde algemeenste oorsaak van dood. Diabetes kan ook kardiovaskulêre siekte (hart en bloedvate) veroorsaak of vererger. Kardiovaskulêre siekte is die hoofoorsaak van dood. Diabetes, soos hoë bloeddruk, is dikwels ’n rustende (slapende) siekte wat gevorderde skade kan aanrig voordat dit gediagnoseer word.

Die meeste tipe 2-diabete kan hulle bloedsuikervlakke beheer deur gewig te verloor (vetgewig), ’n dieet te volg wat gebaseer is op proteïen, gesonde olies, neute, sade en sorgvuldig uitgesoekte onverfynde (komplekse) koolhidrate en vesel, asook voedselaanvullings te gebruik en gereeld te oefen. Mense met ’n familiegeskiedenis van diabetes, of wie se bloedsuikervlakke in die hoë normale band (reikwydte) val, kan die siekte op dieselfde manier voorkom.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх