Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 4

Inleiding

Оглавление

In reaksie op baie lesers se versoek vir ’n boek oor diabetes, het NB Uitgewers my gevra om so ’n boek te skryf. Hierdie onderwerp lê my na aan die hart. As mediese dokter en skrywer wat sedert 1995 in natuurlike geïntegreerde medisyne spesialiseer, is dit deel van my genesingsfilosofie om altyd na die dieper oorsaak te soek, daardie onderliggende en verskuilde, vasgekeerde emosies onderliggend aan alle ‘onwel-wees’ en siekte, en dit te behandel, tesame met die nodige leefstylaanpassings en natuurlike geneesmiddels.

Dit verseker ’n geïntegreerde benadering tot die bestuur van alle chroniese leefstylsiektes, waarvan diabetes ’n belangrike een is, veral wanneer dit gekombineer word met sy meelopers – hartsiekte, depressie en metaboliese sindroom (dikwels Sindroom X genoem).

Die steeds groeiende aantal mense wat met diabetes – een van die grootste hedendaagse chroniese siektes, oftewel gesondheidsuitdagings vanuit die welweesperspektief – gediagnoseer word, is ongekend. Dit dui duidelik op die dringende en noodsaaklike behoefte aan ’n ander perspektief, ’n geïntegreerde benadering tot die bestuur daarvan. Die statistieke is verstommend! Die Internasionale Diabetesfederasie (www.idf.org) skat dat die huidige wêreldbevolking van ongeveer 382 miljoen mense met diabetes oor die volgende 20 jaar tot meer as 590 miljoen sal styg. Dit is een uit elke 10 volwassenes! Daar word geraam dat nagenoeg drie en ’n half miljoen mense in Suid-Afrika diabetes het, met nagenoeg ’n verdere 50 persent wat nie gediagnoseer is nie.

In 2012 het ek weens my eie gewigsuitdaging, asook my belangstelling in insulienweerstandigheid (dikwels ’n voorloper van diabetes) en natuurlike medisyne as oplossing, die Weight Control Clinic by dr. WGG Gauché (in 1974 gestig) oorgeneem. Dit het uit praktiese ervaring duidelik geword dat die meeste pasiënte wat meer as 8 kg liggaamsvet moet verloor óf insulienweerstandig is en hoë vastende insulien het, en dikwels ook hoë bloedglukosevlakke, óf reeds tipe 2-diabetes het. Dit moes dus onder die vergrootglas kom. Ons het verstommende sukses behaal met ’n groep mense (dit is dié met diabetes), wat bekend was daarvoor dat hulle baie gesukkel het om gewig (veral liggaamsvetgewig) te verloor.

Hierdie boek is daarom ’n sameloop van drie jaar praktiese ervaring in die hantering van diabetes en 20 jaar ervaring van leer, skryf en onderrig daaroor – binne die konteks van ’n natuurlike, geïntegreerde benadering, insluitend goed nagevorsde natuurlike geneesmiddels en omvattende leefstylriglyne. Die doel van my benadering is om aan elkeen met hierdie algemene gesondheidsuitdaging hoop en toegang tot die nodige inligting en hulpmiddels te gee. So kan ’n mens selfverantwoordelikheid vir die reis na genesing aanvaar.

Die boek gebruik ’n liggaam-siel-benadering om sin te maak van diabetes as spesifieke voorbeeld van ’n chroniese leefstylsiekte. Dit gebruik die metafoor van ’n alchemiese reis deur die liggaam, waar gebruiklike denkpatrone en vasgekeerde emosies teëgekom en gedrag verander word, en uiteindelik lei tot die fisieke uitwerking van genesing diep binne-in selgeheues, deur DNS- (deur middel van epigenetiese en metagenetiese herstrukturering) en breinherprogrammeringsmiddels en -tegnieke. Dit verskaf ’n geïntegreerde benadering op ’n nuwe pad terug na gesondheid. Talle natuurlike genesingsopsies, soos nutriseutiese en kruiemiddels (gawes van die natuur), kleure, klank, lig, aromaterapie-olies en spesifieke ontspanningsoefeninge, word bespreek en verduidelik. Praktiese tegnieke word ook verskaf om selfverantwoordelikheid te kan aanvaar vir eie gesondheid en welwees.

Miljoene mense kry daagliks wêreldwyd die tyding van ’n ernstige, chroniese en potensieel lewensbedreigende leefstylsiekte, of die risiko om een te ontwikkel (soos diabetes) tydens ’n mediese ondersoek. Sodra die diagnose gemaak is, wil ons meer inligting hê om beheer terug te neem oor ons eie gesondheid en onsself van ‘n ‘arme ek’-beeld te bevry. Ons weet intuïtief dat dit nie genoeg is om bloot die simptome te behandel nie. Daar moet ’n dieper betekenis en doel aan elke gesondheidsuitdaging wees, of dit nou akuut of chronies is. ‘Wat kan ek doen om my gesondheid te verbeter of te bestuur?’ is seker die vraag wat elke gesondheidsorgpraktisyn die meeste hoor.

Die doel van hierdie boek is om vir lesers praktiese antwoorde en inligting te gee waarmee hulle elke dag kan werk. Werk gerus deur hierdie boek, besin en bepeins die kwessies, praat met ander en skryf in jou dagboek neer. Dan sal jy weet hoe om jou eie gesondheidsuitdaging(s) te benader, te voorkom en te bestuur met behulp van talle geïntegreerde genesingspraktyke wat jy elke dag kan inspan. Selfs vir dié sonder diabetes as gesondheidsuitdaging sal die genesing, natuurlike geneesmiddels, voedingsraad, oplos van emosionele kwessies en meditasiepraktyke help om liggaam en siel in harmonie te bring in ’n dans van balans en heelheid.

Die boek volg die middeweg as brug tussen linker- en regterbrein – tussen konserwatief en liberaal; enersyds suiwer analities, rasioneel, wetenskaplike en fisiese denke, en andersyds emosionele, kreatiewe, spirituele en simboliese regterbreindenke. Dit streef om die twee te integreer. Die suiwer linkerbreindenkers sal baie stof tot nadenke en riglyne vir eie genesing kry, en boonop hulle insig verbreed om na die wêreld en hulleself anders te kyk. Die regter- en heelbreindenkers sal terselfdertyd ook baie vind wat hulle belangstelling prikkel, en daarby hulpmiddels vir optimale gesondheid en welwees.

Die reis na genesing is diep en misterieus. Dit behels dat ons ou denk- en geloofspatrone, leefstyl en gedrag verander, asook diep verandering teweegbring in die selomgewing (innerlike milieu van elke sel), wat dikwels in ons natuurlike omgewing weerspieël word.

Om die ego en onderbewuste (of onbewuste) denke met sy verskuilde saboteurs (vasgekeerde emosies) te temper, het jy ’n paar basiese bestanddele nodig: geduld, oefening en deursettingsvermoë. Voeg daarby ’n skeutjie gemoedelike buigsaamheid, tesame met gereelde tydperke van meditasie, nadenke, bepeinsing en gebed om die superbewuste denke en Goddelike Intelligensie in te nooi in die genesing van die liggaam-siel-eenheid. Meng dit nou met ’n groot porsie dapperheid, humor en dissipline – om aan te hou en deur te druk, selfs wanneer dit voel asof niks gebeur nie, of selfs aanvanklik erger word.

Ons het twee maniere van leef: Een is suiwer om te oorleef, die ander om sukses te behaal en te floreer in gesondheid, vreugde en geluk – ons natuurlike geboortereg. Die keuse is ons s’n om elke oomblik, elke dag van ons lewe te maak. Om bewus te word hiervan en doelbewus oomblik vir oomblik ons pad te kies, is ons belangrikste taak in hierdie lewe.

Ek nooi jou saam op hierdie alchemiese reis. Die reis is selfs belangriker as om enige toekomstige doel te bereik. Daar word gestreef om betekenis te vind in ‘onwel-wees’ en siekte, in ’n spiraalproses wat na binne begin draai en dan buitentoe uitdraai, om uiteindelik vryheid en vrylating van vasgekeerde emosies te bewerkstellig en ook te verstaan: Elkeen kan kies om self verantwoordelikheid te aanvaar wanneer die liggaam hom of haar deur fisieke simptome wys dat die balans versteur is.

Ons streef almal na ’n toestand van innerlike balans, om ons ware passie en doel as vreugdevolle mense uit te leef – vanuit die hart, in vrede, ontluikend in optimale gesondheid en welwees, terwyl ons ons lig na mense om ons versprei en so almal inspireer tot ’n vreugdevolle lewe. Genesing deur alchemie leer ons dat die innerlike soektog nie die eindresultaat of -produk is nie, maar eintlik die reis en innerlike genesingsproses self.

Soms moet ons onsself daaraan herinner dat die liggaam van nature gesond en wel wil wees!

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх