Читать книгу Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe - Страница 17

INSULIEN EN BLOEDGLUKOSE

Оглавление

Insulien is ’n hormoon, peptied of inligtingstof wat deur die pankreas in die bloedstroom afgeskei word, net nadat jy geëet het en wanneer koolhidrate verteer en in die bloedstroom as glukose geabsorbeer word. Koolhidrate (stysels) word in die dermkanaal tot glukose afgebreek en dan na die lewer vervoer. Van die glukose word in die lewer as glikogeen gestoor om geredelik beskikbaar te wees wanneer energie benodig word. Van die glukose word in die bloedstroom vrygestel vir onmiddellike gebruik deur die organe, spiere en rooibloedselle. Sodra die bloedsuikervlak styg, word insulien afgeskei. Insulien bind aan die selreseptore van insulienafhanklike selle, en laat sodoende die glukosekanale oopgaan sodat die glukose deur die selmembrane kan beweeg tot binne in die selle soos vet- en spierselle, om sodoende energie te verskaf aan die selle vir al hulle biochemiese behoeftes.

Insulien stimuleer ook die sintese van vet indien daar meer glukose is as wat die sel nodig het. Indien die pankreas te min insulien vervaardig, raak die glukosevlak in die bloed te hoog, want die glukose kan nie die selle binnegaan nie. Daardie selle wat van insulien afhanklik is vir die verskaffing van glukose (vet- en spierselle) ly honger. Ander selle wat nie insulien nodig het om glukose te absorbeer nie (bv. breinselle), kry te veel suiker. Die suiker begin dan gis, wat skade aan selle en organe aanrig. Dink aan iemand sonder vars water in ’n reddingsbootjie wat op die see ronddobber, maar nie sy dors met die seewater kan les nie.

Breinselle is nie van insulien afhanklik vir die absorpsie van glukose nie. Die breinselle absorbeer die glukose direk uit die bloed. Indien die bloedsuikervlak te hoog styg, kry die brein te veel glukose en dit kan tot ’n koma lei. Die hoë bloedsuikervlak beskadig ook die delikate filtreermeganisme in die niere sodat meer urine uitgeskei word. Die niere skei ook meer glukose af.

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies

Подняться наверх