Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 66

29 Februarie

Оглавление

Hierdie dag kom net elke vierde jaar. Ek wil graag van hierdie dag gebruik maak om jou van twee insidente in my persoonlike lewe te vertel.

Ek was tussen twee huishulpe. Die bekende oue is weg familie toe en ek kon nog nie weer een kry nie. Alles wat gedoen moes word, moes deur my eie twee hande gedoen word. Ook die wasgoed – maar dit het die wasmasjien gedoen. Maar die stryk …

Ek kon nie stryk nie – nie om my lewe te red nie, veral manshemde. Stryk ek een plek glad, stryk ek kreukels op ’n ander plek in. Die skoon wasgoed stapel op in die waskamer – tot op ’n dag dat my man sy laaste skoon, gestrykte hemp aantrek.

Daardie dag bevind ek my toe agter die stryktafel – ’n baie vreemde, onbekende plek vir my. Ek vat die eerste hemp van die stapel af – en dit mor en kla en brom hierbinne in my terwyl my dom vingers hulle bes doen.

En toe skielik praat daar ’n stem, ’n stem wat ek – gló my – met my ore hoor – duidelik, helder: “Goed, Ena. Ek sal vir Jacques vanmiddag op pad huis toe na My toe neem. Dan hoef jy nooit weer ’n hemp te stryk nie.”

Ek was yskoud, die hoendervel het op my uitgestaan. En toe het ek hardop gesoebat: “Nee, Here, asseblief! Ek sal al hierdie hemde stryk – sonder murmurering en met liefde, maar bring my man vanmiddag asseblief huis toe!” En ek het begin stryk.

Die Here het my daardie dag twee groot lesse geleer – lesse wat ek nooit weer vergeet het nie. Ten eerste dat daar nooit weer sleurwerkies in my lewe was nie. Elke sleurwerkie het in ’n gawe van God verander. Selfs om ’n hemp te stryk – want dit beteken my man lewe en hy kom huis toe ná werk vandag. Ek was singende my skottelgoed, want dit beteken daar is kos in my huis terwyl miljoene nie kos het nie. Ek was blymoedig my kombuisvloer, want dit beteken ek het ’n dak bo my kop, terwyl miljoene geen skuilplek het nie. My gesindheid teenoor sleurwerk het totaal verander. Ja, terloops, niemand sal vandag ’n strykyster uit my hand neem nie – én ek geniet dit! Dit was die tweede les!

Nadat my 120ste manuskrip voltooi was, het ek in ’n windstilte beland. Elke skrywer sal jou vertel dis ’n nagmerrie. Jy weet daar is “iets”, maar dit wil nie deurkom nie. Elke middag kom my man van die werk af met ’n vraag in sy oë, en elke keer moet ek net ontkennend kopskud.

Ek sit weer een middag agter my lessenaar, my oë op die tuin gerig, maar op mismoed se vlakte. Ena, jy is uitgeskryf. Dis klaar. Jy sal nie meer skryf nie, vertel ek myself. Dan probeer ek weer – maar niks. Elke keer kyk ek op die tuin uit, sien daardie vreeslike droë kol. Dit moet water kry, vertel my kop my. Maar ek bly sit agter die lessenaar, biddend dat daardie “iets” moet deurkom. Toe ek vir die hoeveelste keer die droë kol raaksien, besluit ek ek kan net sowel maar daar gaan natmaak, want ek kry tog nie iets hier agter die lessenaar uitgevoer nie.

Ek draai die kraan oop, gaan sit die punt van die tuinslang daar neer om dit sommer nat te lei.

Dan is daar ’n geritsel langs my. ’n Ou skilpad waarvan ’n stuk van sy dop weg is, sukkel langs my voet verby, druk sy kop in die bek van die tuinslang en neem lang slukke water. Ek ken skilpaaie. Ek kom uit die Karoo. Ek kon sien dis ’n ou man, dat wat ook al met sy dop gebeur het, dit baie seer moes gewees het. En ek het nog nooit tevore gesien dat ’n skilpad so baie water op een slag drink nie. Hy moes vreeslik dors gewees het.

En toe tref dit my … God het my weggeroep van my lessenaar om eers sy ou stukkende, dors skilpad water te kom gee.

Ek het daar langs die ou stukkende skilpad gehurk en die trane het oor my wange geloop – van skaamte. Want weer het God baie duidelik met my gepraat.

Ek het jou met 120 temas gehelp. Ek was elke minuut wat jy agter jou lessenaar was, saam met jou daar. En nou, by die 121ste, twyfel jy aan My! Soos ek jou weggeroep het van jou lessenaar af om eers my ou stukkende skilpad wat so dors is te kom water gee, so het Ek nog altyd ook vir jou gesorg. Wanneer jy My nodig het, was ek nog altyd daar.

Hurkend skaam en skuldig kon ek net daar langs die ou skilpad bely: “Vergewe my, Here!”

Daardie middag toe my man by die deur instap met die nou bekende vraag in sy oë, kon ek glimlag en hardop antwoord: “Hier lê my tema uitgewerk in detail. Ek begin môre skryf!”

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх