Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 77
9 Maart
ОглавлениеEk is hulpeloos en arm, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie! – Psalm 40:18
Hoe direk spreek die psalmdigter met hierdie woorde tot elke siel.
Daar is van ons wat hulpeloos is. Miskien is ons liggaamlik ongesteld. Miskien bevind ons ons in ’n lewensituasie wat, na ons oordeel, hopeloos lyk. Daar is moontlik probleme in jou lewe wat jou reddeloos en radeloos laat voel. Jy het in ’n hoek beland en sien geen uitkomkans nie. Of jy bevind jou in ’n doodloopstraat – terug kan jy nie en vorentoe sien jy geen pad nie.
Jy is dalk ook arm – arm aan noodsaaklike dinge wat liggaam en siel aanmekaar moet hou. Jy moet dinge betaal. Jy het sekere dinge nodig. En daar is net nie geld nie. Of jy het ’n ander armoede in jouself ontdek – die armoede van die gees. Jy het skielik tot die ontnugterende besef gekom dat jou aardse bestaan leeg en nutteloos is. Jou hele lewe het nog altyd net om dinge gewentel wat nou teen die end net ’n gejaag na wind blyk te wees. Nou besef jy jy het jou opgeswoeg vir die mot en die roes. Jy het jou lewe weggegooi soos pêrels voor die swyne.
Maar juis dan gee ons teksvers vir jou die versekering: Die Here dink aan jou! Hy is jou hulp. Hy kán jou red uit hierdie kuil waarin jy jou bevind. Erken net aan Hom dat jy hulpeloos en arm is en dat Hý die enigste is wat jou kan red.
Liefdevolle Vader, ek moet my in hierdie dag ten volle op U beroep. U is my enigste hulp en redder. Help my, asseblief! Amen.