Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 65

28 Februarie

Оглавление

… As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. – 2 Tessalonisense 3:10

Dis baie logies en vanselfsprekend. Ons almal stem volkome daarmee saam: Die man wat werk, kan eet en mag eet. Hy wat nie wil werk nie … nou ja …

Ons voel baie tevrede met onsself. Ons werk mos. Of liewer, ons het ’n werk. Maar tog kla ons, voel dikwels ontevrede: Ek kan nie eet soos ek wíl eet nie. Ek moet eet soos ek kán eet.

Het jy miskien al daaraan gedink jy kan net eet soos jy werk?

Hóé werk jy? Doen jy jou werk met een oog op die horlosie? Nie één minuut vóór die amptelike tyd is jy beskikbaar nie. Nie één enkele sekonde ná sluitingstyd nie! En jy eis elke vrye tyd waarop jy geregtig is. Elke teepouse neem jy, of jy nou tee drink of nie. En die spoed waarteen jy werk … die stapel wat in een dag afgehandel kan word, kan mos maar oor ’n hele week ook versprei word, want jy werk jou nie dood nie, nie vir die staat nie, nie vir jou werkgewer nie, vir niemand nie. En Februarie is ’n goeie maand, want jy werk twee, selfs drie dae minder teen dieselfde salaris.

Ook die gesindheid waarin jy jou werk doen, kan ’n faktor wees wat sal bepaal wat jy op jou bord kry. Doen jy jou werk bloot omdat jy moet werk om ’n inkomste te hê om te kan eet? Met ’n gesug en ’n gekla asof dit ’n groot las is? Rammel jy dit af net om klaar te kry?

Hoe kan soveel gemor en gekla vreugde op jou bord bring? En waarom so verbaas en ontevrede dat jou porsie vir die dag nie so groot is soos jý dit sou wou hê nie?

Here, dankie dat ek werk het en dat ek dit vir U kan doen. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх