Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 57
20 Februarie
ОглавлениеLiewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. Liewer net ’n bietjie groente en liefde daarby as ’n vetgemaakte os en haat daarby. – Spreuke 15:16, 17
Dis tragies dat so baie van ons in ons strewe om bo te kom, eintlik die hele pad afklim met die leer van geluk.
Ons strewe almal daarna om te klim, om hoër te styg. Maar in die proses verloor ons dikwels soveel aan geluk en ander dinge van groter waarde dat ons eers as ons die dag bo is, die dag dat ons ryk is, besef: Maar nou is ons eintlik armer. Ons het ryker geword aan aardse goed, maar ook ryker aan kommer. Ons het daarin geslaag om ons te omring met alles wat ons gedink het die lewe die moeite werd maak, maar noudat ons dit het, moet ons vind dis nié die moeite werd nie. Want wat help al die sukses, al die rykdom, die vetgemaakte kalf op die tafel, as ek dit net met my oë kan sien en dit nie kan geniet nie? As ek, terwyl ek dit miskien wel tog gebruik en daarvan eet, dit met onrus en onvrede in die hart moet doen. Watter genot kan enigiets van hierdie aarde aan die mens gee as jy dit nie in vrede en met liefde kan geniet nie?
Pasop dus, wees waaksaam, dat jy nie dalk vandag in jou strewe na die hoogtes geestelik op die afdraande pad is nie.
Here, help my om die regte waardebepalings in die lewe te kan doen en om nie in die waan te verkeer dat ek al hoër styg terwyl ek eintlik afdraand gaan nie. Amen.