Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 56
19 Februarie
Оглавление“En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ ” – Matteus 22:39
Oor hierdie gebod is al baie geredeneer. “Wie is my naaste?” is ’n vraag wat al deur talle gevra is. En laat ons maar eerlik wees: In die meeste gevalle word hierdie vraag gestel met die doel om dit te omseil.
Ons besef almal die belangrikheid van hierdie gebod. God stel dit tog so uitdruklik dat daar geen twyfel hoegenaamd kan bestaan nie: Om te bewys dat jy die ewige lewe het, moet jy nie net die Here liefhê nie, maar gelykstaande daaraan, ook jou naaste. As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar. Wie God liefhet, moet ook sy naaste liefhê. Hierdie twee kan nie van mekaar geskei word nie, want jou liefde vir jou naaste is die praktiese, tasbare, sigbare bewys van jou liefde vir God.
Maar nou probeer ons slim wees en óns wil besluit wie ons naaste is. Want laat ons dít ook maar erken: Daar is mense vir wie ons nie kans sien om lief te hê nie. Hulle is swart of hulle is bruin of hulle is wit. Of hulle was ontrou, of hulle het ons verkul. Hulle het ons in die rug gesteek, of hulle het ons groot leed aangedoen. Sulke mense is nie my naaste nie, besluit ons.
Moet jouself nie bluf nie. God waarsku op ’n ander plek (Matt. 6:46, 47) teen hierdie redenasie. As ons net goed doen aan dié wat aan ons goed doen, wat beteken dit nou eintlik? Die heidene doen dit ook. As ons net dié groet wat vir ons groet … As ons net lief is vir dié wat óns liefhet …
Here, ek erken: Hierdie gebod is vir my baie moeilik. In my menslikheid kan ek dit nie nakom nie. Maar deur u genade en met u Heilige Gees in my is dit vir my moontlik. U het vir my die voorbeeld aan die kruis gestel toe U nie net gebid het vir hulle wat die spykers deur U gekap het nie, maar dat U ook vir hulle gesterf het. Amen.