Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 55

18 Februarie

Оглавление

Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. – Lukas 10:21

Ons het ’n wonderlike God! Hy het die dinge van die ewigheid só eenvoudig gemaak dat kindertjies en selfs eenvoudiges van verstand en gees dit kan verstaan en dit nie hoef mis te loop nie. Daarom kan elkeen vandag met ’n hart vol dankbaarheid uitroep: “Ek prys U, Vader!”

Maar daar is ook ’n waarskuwing by. ’n Waarskuwing aan die “slim” mens – hy wat met sy hoë intellek en sy baie geleerdheid ’n verklaring en verduideliking vir alles soek, ook vir die dinge van die ewigheid. Hy wat alles bevraagteken, ook Gods Woord. Hy wat nie tevrede is om soos ’n kind en ’n eenvoudige van gees God se beloftes net gelowig te aanvaar, in volle vertroue dat wat Hy beloof het, so ís nie. Alvorens hy bereid is om te glo, wil hy as ’t ware ’n bewysstrook van God hê dat wat Hy sê, wel so is en so sál wees. Soos ’n Thomas eers die spykermerke in die verrese Jesus se hande wou sien voordat hy bereid was om te glo Jesus het opgestaan, net so wil dié mens eers klinkklare bewys hê voordat hy sal ophou om die werke en weë van God te bevraagteken.

Hoe tragies is dit dat baie van hulle aan wie God so mildelik aan verstand uitgedeel het, miskien eendag die hemelpoort sal verbyloop omdat hulle te besig was om slim redenasies te voer en nie bereid was om net te glo nie. As ons nie meer glo in wat die Woord van God vir ons sê nie, wat bly oor om in te glo? Niks. As ek my geloof in my God en my Bybel moet verloor, dan het ek alles verloor. Daar bly niks oor nie – geen sin in hierdie aardse lewe nie, en – ondenkbaar – geen God, geen hemel, geen ewige lewe nie.

O Here, vandag bevraagteken so baie “slim” mense die waarheid van u Woord, die ontstaan van die mens en die skepping van die heelal, selfs ook u bestaan. Ek bid U, Almagtige Skepper, dat U my die “eenvoudige” hart sal laat behou om te bly glo in U en u Woord. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх