Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 48
11 Februarie
ОглавлениеJy mag jou nie blind hou wanneer jy ’n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat. – Deuteronomium 22:1
“Ek wil nie betrokke raak nie.”
Die een of ander tyd in jou lewe het jy al daardie woorde geuiter. Die een of ander tyd in jou lewe het jy liewer anderpad gekyk, jou rug gedraai. Erken dit maar.
Weet jy watter groot sonde dit is?
Ons weet almal van talle voorvalle waar mense, partykeer weerlose ou dames, op straat beroof is. En ons staan en toekyk, doen niks nie, want ons wil nie betrokke raak nie. Ons sien verkeerde dinge gebeur, ons weet van die grootste onreg wat gepleeg word teenoor weerlose mense soos kinders en oumense. En ons bly stil, want ons wil nie betrokke raak nie.
Maar dan, ironies, is ons gou om vanaand op ons knieë te gaan en God te vra om tog betrokke te raak by ons en ons probleme. Ons kyk anderpad as ons naaste in nood verkeer. Ons was ons hande in onskuld met die houding van “elke man vir homself”. Maar van God verwag ek dat sý oog al my nood sal raaksien, dat sy hand altyd hulpverlenend na my uitgestrek sal wees.
Het jy al gedink wat van jóú sou geword het as God op ’n dag moes besluit Hy wil nie meer betrokke wees nie?
Liewe Here, vergewe my waar ek in die verlede die groot sonde gepleeg het om nie betrokke te wil raak by my naaste se nood en ellende nie. En dankie, goeie Vader, dat U altyd nog by die mens en sy ellende betrokke gebly het. Amen.