Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 49
12 Februarie
Оглавление… en skiet ons jare verby soos ’n gedagte. – Psalm 90:9
Hoe waar is dit!
As ’n mens ’n kind is, lê die hele lewe nog voor jou. Die dag van sterwe is vir jou iets vaags wat daar ver op die grense van ’n ewigheid wag.
Maar ons vir wie die pad wat agter lê reeds langer geword het as die pad vorentoe, wéét dat die psalmdigter ’n waar woord gesê het toe hy ons jare vergelyk het met ’n gedagte wat verbyskiet. Baiemaal wens jy dat jy, toe jy nog jonk was, reeds hierdie groot waarheid besef het en die goeie en mooi jare van jou lewe beter benut het. Eers wanneer die week só kort geraak het dat dit vir jou voel dis gister toe jy gesê het: Dis al wéér Vrydag! besef jy hóé kosbaar tyd is.
Daarom, moenie die kosbare ure verspil op nuttelose dinge nie. Moenie die kosbare sekondes van geluk vermors op onvrede en kwade gevoelens en ledigheid nie. Onthou, elke minuut van jou lewe waarin jy kwaad of ongelukkig is, beteken jy het sestig sekondes verloor waarin jy geluk en vrede kon gesmaak het. Elke uur wat jy verspil op ledigheid en sinlose dinge, beteken jy gaan êrens vorentoe sestig minute te min hê om klaar te maak wat jy graag wil klaarhê. Daardie uur, daardie minuut, daardie sekonde wat verby is, is vir altyd verby.
Dié dinge wat jy nog altyd wou doen en sou doen, doen dit vandag! Doen dit nóú! Gaan sê die “Ek is jammer” wat jy lankal moes gesê het. Gaan sê dit nóú! Veral as jy nog steeds nie in jouself seker is van jou hiernamaalse bestemming nie, maak vandag daarvan seker. Die eindpunt is dalk nader as wat jy dink.
O Here, hoe wonderlik om te weet dat daar ’n ewigheidslewe saam met U wag ná hierdie aardse wat maar net ’n gedagte lank is. Amen.